MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie benodig inligting aangaande 'n voorval waartydens 'n leerder in Oktober 2020 deur 'n minibus-taxi raakgery is.
Volgens inligting verskaf deur die polisie het twee seuns op 22 Oktober omstreeks 10:30 vanaf Hoërskool Sao Bras gestap toe hulle op die hoek van Strand- en Skoolstraat die straat oorsteek.
'n Taxi het na bewering een van die seuns omgery en nie na die botsing gestop nie, maar weggery.
Omstanders het die seun te hulp gesnel en hy is per amublans na 'n plaaslike hospitaal geneem.
Die polisie benodig inligting aangaande die taxi-bestuurder se identiteit.
"Enige inligting sal as vertroulik hanteer word en positiewe inligting wat tot die ondersoek kan bydra, sal beloon word," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Enige persoon met inligting, word versoek om die ondersoekbeampte, ao A Stokes te kontak (044 606 2200).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'