MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie soek na vyf gewapende mans wat Sondagaand omstreeks 20:20 op twee buitelandse winkeliers in Herbertsdale toegeslaan en hulle beroof het.
Die rowers, wat Afrikaans gepraat het, was glo met handwapens en 'n haelgeweer gewapen toe hulle onder meer sigarette, lugtyd en kontant by die winkel by Pappajas gesteel het.
Een van die slagoffers is met 'n wapen teen die kop geslaan. Die polisie kan nog nie bevestig met watter tipe voertuig die rowers op die vlug geslaan het nie, maar sê die gemeenskap het vroeër die dag 'n onbekende blou Volkswagen Golf in die omgewing opgemerk.
Volgens 'n gemeenskapsleier het die rowers na bewering met twee voertuie, 'n blou asook 'n wit Golf, wat beide vroeër die dag in die uitbreiding met nuwe huise in Herbertsdale opgemerk is, van die toneel weggekom.
Die ondersoekbeampte is Ao Hennie Bijlsma van die KwaNonqaba-polisie (044 606 5600). Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die polisie te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'