MOSSELBAAI NUUS - Die ondersoekspan van die KwaNonqaba-polisiestasie het vanoggend die gesteelde skootrekenaar wat vroeër vandeesweek uit een van die tydelike kantore gesteel is, opgespoor.
'n Deurbraak is gemaak en drie persone is gearresteer nadat lede waardevolle inligting wat van die gemeenskap ontvang is, opgevolg het.
Sersant Rudi Swanepoel, die ondersoekbeampte in die saak, het inligting van die gemeenskap opgevolg en drie persone, onder meer twee immigrante is in samewerking met die KwaNonqaba-polisie se misdaadvoorkomingseenheid gemaak.
Dit blyk die misdadiger wat die skootrekenaar gesteel het, het dit aan die buitelandse burgers vir minder as R500 verkoop.
Toe die polisie op die immigrante toeslaan, is nog 'n vermoedelik gesteelde skootrekenaar in hul besit opgespoor.
Al drie die verdagtes is in aanhouding en sal binnekort in die hof verskyn.
Die immigrante sal op klagtes van die ontvangs van vermoedelik gesteelde eiendom tereg staan, terwyl die persoon wat vermoedelik die skootrekenaar gesteel het, aangekla sal word van diefstal.
Die bevelvoerende offisier van die KwaNonaba-ondersoekeenheid, kapt Ashleigh Michaels het haar lede vir hul ononderbroke en toegewyde deursettingsvermoë geloof.
"Die arrestasie is weer eens die bewys van watter suksesse uit goeie spanwerk vloei. Die KwaNonqaba-polisie bedank die gemeenskap wat nie gehuiwer het om misdadige optrede aan te meld nie. Die gemeenskap se hulp in die oplos van hierdie saak was onontbeerlik."
Die bevelvoerende offisier van die KwaNonqaba-ondersoekeenheid, kapt Ashley Michaels (derde van links) met lede van die speurtak en die misdaadvoorkomingseenheid wat die polisie se gesteelde skootrekenaar met die hulp van die gemeenskap opgespoor het.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'