MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaapse Polisie het bekend gemaak dat sewe verdagtes gearresteer en verskeie gesteelde items teruggevind is ná 'n vlaag inbrake en gewapende huisrowe die Groot Brak-gemeenskap die afgelope paar weke geteister het.
Die eerste inhegtenisnames was op Donderdag, 13 April, toe lede van die George-polisie en openbare orde eenheid inligting opgevolg en gelei het tot die deursoeking van twee wonings in Lawaaikamp, George.
Vier mans, twee Kongolese- en twee Burundi-burgers is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op vier selfone. Twee van die selfone is verbind met van die huisrowe, wat in die Groot-Brakrivier omgewing plaasgevind het.
Die vier mans, tussen 27 en 33 jaar oud, is aangekla van roof. Hulle bly in aanhouding en sal op 4 Mei in die hof verskyn vir formele borgaansoeke.
KwaNonqaba
'n Dag later op Vrydag, 14 April, het dieselfde operasionele intelligensie span 'n onverwante saak ondersoek toe hulle op 'n woning in New Rest, KwaNonqaba, toegeslaan het. Met die deursoek van die wonings, het die polisielede op drie R5-vuurwapenmagasyne, met verskeie rondes ammunisie en 'n deel van 'n vuurwapen afgekom.
Met verdere ondersoek is daar onder andere ook beslag gelê op twee televisies, 'n oorhoofse projektor, 'n Dell skootrekenaar en 'n Apple horlosie.
Drie verdagtes, 17, 21 en 54 jaar oud, is op aanklagtes van die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en die besit van waarskynlik gesteelde eiendom, in hegtenis geneem. Twee van die aangeklaagdes bly in aanhouding tot hul op 16 Mei in die hof verskyn.
Die aanklagte teen die derde verdagte in die saak, is teruggetrek. 'n Groot hoeveelheid van die besittings wat teruggekry is, hou direk verband met items wat tydens die onlangse Groot Brak-rooftogte gesteel is.
Verdere ondersoeke deur die polisie het een van die aangeklaagdes, 'n 54-jarige Mosambiekse burger, verbind met 11 rooftoge wat die afgelope 10 maande in die area gerapporteer is.
Die man het die afgelope Dinsdag in die Groot-Brakrivier hof verskyn op aanklagte van die besit van gesteelde goedere, huisbraak en diefstal. Die aangeklaagde bly in aanhouding tot 9 Mei wanneer hy in die hof sal verskyn vir 'n formele borgaansoek op al die aanklagte.
Deeglike ondersoeke
Die Tuinroete Distrikskommissaris, generaal-majoor Norman Modishane, het die polisielede van die verskillende eenhede geloof vir hul deeglike ondersoeke en harde werk om die gesteelde goedere te vind en vir die inhegtenisnames van die verdagtes.
"Ek wil graag die lede bedank vir hul verbintenis om die verdagtes op te spoor, in hegtenis te neem en deur hul goeie ondersoekwerk seker te maak dat hulle gearresteer is en dat geregtigheid kan geskied."
Die ondersoek na al die sake, ook die huisrooftogte, gaan voort. Meer aanklagte kan by die klagstaat gevoeg word soos die ondersoek vorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’