MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-polisiestasie gaan 'n gesigsamestelling saamstel van 'n vrou wie se liggaam op Woensdag, 27 April op die rotse naby die Mosselbaai-hawe uitgespoel het.
Volgens die polisie het 'n lid van die gemeenskap op Dinsdag, 26 April die polisie van 'n moontlike verdrinking ingelig.
Hy het aan die polisie gesê dat hy om ongeveer 17:00 op die wandelroete naby 'n gewilde swemplek by die Punt, bekend as Skurwebankies gestap het, toe hy 'n vrou in die water sien verdwyn het.
Die polisie het hul soek-en-reddingspan geaktiveer, maar het op niks afgekom nie. Die soektog het Woensdagoggend voortgeduur, maar steeds is niks gevind nie.
Ietwat later, om ongeveer 12:00 het die liggaam van 'n vrou, met die geskatte ouderdom van tussen 30 en 35 jaar oud, by die dolosse naby Viking Fishing uitgespoel.
Enigeen met inligting kan die Mosselbaai-polisiestasie kontak by 044 606 2868 of 082 778 7304.
Die voorval word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'