MOSSELBAAI NUUS - Polisielede verbonde aan die Da Gamaskop-polisiesone het die afgelope naweek 50 leerders tydens die Kids@Heart-jeugkamp onder hande geneem.
Die jongklomp, wat deur meeste van die polisiestasies in die sone uitgenooi is om aan die kamp deel te hê, is heerlik vermaak en ure se pret is afgewissel met ernstige lesse en leierskapsoefeninge wat daarop gemik was om hulle voor te berei vir die uitdagings van die komende akademiese jaar.
Elk van die leerders is boonop na afloop van die verrigtinge toegerus met 'n skoolrugsak en basiese skryfbehoeftes wat deur 'n anonieme borg bewillig is.
Die jong leerders, seuns en meisies was dit eens; die kompetisie was fel, maar pret het bygedra om die kamp 'n onvergeetlike ervaring te maak.
Die organiseerders, sersante Kapp en Benita Swanepoel van die KwaNonqaba-polisie het hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskapspolisiëringsforum en elke borg wat gehelp het om van die kamp 'n sukses te maak.
Spierkrag, saam met breinkrag is ingespan om sommige van die oefeninge met sukses te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'