OUDTSHOORN NUUS - Polisielede van die KwaNonqaba-polisiestasie het Dinsdag met skok verneem van die afsterwe van 'n oud-kollega wat volgens alle aanduidings sy eie lewe geneem het deur van die Gouritsrivierbrug te spring. Die voormalige sersant Melikhaya Mapete (38), 'n ondersoekbeampte het vroeër na strafregtelike klagte die polisiediens verlaat.
Dit het sedertdien aan die lig gekom dat wetstoepassers reeds vanaf minstens 19:07 op Maandagaand, 10 September van die voertuig wat op die N2, skraps binne die geelstreep op die brug oor die Gouritsrivier geparkeer was, bewus was.
'n Leser wat aan die Mossel Bay Advertiser bekend is maar verkies om anoniem te bly, berig dat hy in die rigting van Mosselbaai gery het toe hy self amper met die geparkeerde voertuig gebots het.
Wetstoepassers ingelig
"Ek het die polisiekantoor op Albertinia om 19:07 geskakel waar ek met 'n vrou gepraat het. Ek het gesê ek is bekommerd oor die gevaar wat die geparkeerde voertuig vir ander voertuie inhou. Dit was nog lig toe ek by die voertuig verby is en ek kon die fabrikaat van die voertuig waarneem. Die beampte met wie ek gepraat het, het gesê die polisie is bewus van die voertuig, maar kan dit nie verwyder tensy die eienaar opgespoor kan word nie. Die polisie het onderneem om 'weer later ondersoek in te stel'.
"Kort daarna, toe ek naby PetroSA 'n provinsiale verkeersbeampte opmerk, het ek gestop en die man oor die voorval ingelig. Ek het gevra dat die verkeersdienste iemand stuur om met ligte aankomende verkeer teen die risiko te waarsku. Ek het aan die verkeersbeampte gesê ek het met Albertinia-polisie geskakel. Die verkeersbeampte het laat blyk dat voertuie deesdae nie sonder meer verwyder mag word nie, maar het onderneem om om 23:00 wel ondersoek te gaan instel."
Reddingswerkers van die Wes-Kaapse forensiese dienste maak reg vir die moeilike tog tot onder in die rivierloop waar die liggaam van die oorledene omstreeks 10:20 opgemerk is.
Verkeershoof
Om ongeveer 07:30 op Dinsdagoggend, 11 September was die Wes-Kaapse provinsiale verkeershoof, Kenny Africa in die rigting van Kaapstad op die N2 onderweg toe hy 'n voertuig in digte mis opmerk waar dit bo-op die brug binne die geelstreep geparkeer staan. Hy het 'n u-draai gemaak en by nadere ondersoek gevind dat die voertuig, 'n Toyota Yaris se deure ongesluit was, dat die sleutel nog in die aansitter was en dat persoonlike dokumentasie en 'n selfoon op die passasiersitplek van die voertuig gelê het.
Africa het 'n provinsiale verkeersbeampte van Mosselbaai gevra om die eienaar op te spoor en na Mapete se woning te gaan om ondersoek in te stel. Tuis is verneem dat Mapete die Maandagmiddag laas by die huis was. Die polisie is daarna gekontak en 'n omvattende soektog is van stapel gestuur. Ander ooggetuies het ook die voertuig gedurende die nag op die brug opgemerk.
Op die toneel het lede van die polisie vanaf die brug iets opgemerk wat moontlik kon aandui waar die soekgeselskap kon soek.
Omvattende soektog
Omstreeks 10:20 het lede van die SAP Langeberg K9 honde-eenheid en 'n reddingspan van die Wes-Kaapse forensiese dienste en die nood mediese dienste (EMS) met behulp van plaaslike boere op die liggaam van Mapete langs 'n steil krans afgekom.
Die liggaam is in die sorg van die forensiese beamptes wat die oorsaak en tyd van dood sal bevestig. Konstabel Fielies van die Albertinia-polisie, wat die hele oggend op die toneel was en met die soektog gehelp het, is die ondersoekbeamtpe.
Mapete laat sy vrou en drie kinders na. Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.
Kommer
Mosselbaaiers het, veral aanlyn, weer kommer uitgespreek oor nóg 'n voorval by die Gouritsrivierbrug. "Dit is nou al die derde voorval in die onlangse verlede, hopelik word die brug nie soos die berugte Bloukransrivierbrug om die verkeerde redes bekend nie," het 'n leser wat in die gasvryheidsbedryf is, gesê.
Die Gouritsrivierkruising was tot redelik onlangs 'n groot bron van toerisme-inkomste en die ou padbrug is 'n historiese bate.
Die hoop is uitgespreek dat toerisme-projekte binnekort weer hier gevestig sal kan word wat die area as toerisme-aantreklikheid sal ontsluit en omstandighede daar sal beveilig.
Lees 'n verwante artikel: Gouritsrivierbrug eis nog 'n slagoffer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'