MOSSELBAAI NUUS - "Dit wys jou weer; die polisie en buurtwagte se samewerking is krities in die stryd teen misdaad," sê die Mosselbaai-polisiestasie se woordvoerder, ao Pieter Koekemoer nadat polisiebeampte, ao Amanda Lordon onlangs met die hulp van Heiderand-buurtwaglede 'n huisbraakverdagte in hegtenis geneem het.
Lordon het op die betrokke dag 'n boodskap wat deur die Heiderand-buurtwag op sosiale media gestuur is gelees terwyl sy aan diens was.
"Dit was 'n versoek om op die uitkyk te wees vir 'n man wat besig was om by 'n woning in die gebied te probeer inbreek." Lordon het die verdagte kort na die versoek, in die woongebied opgemerk en hom ondervra.
"Hy het hom teen die arrestasie verset en ons het begin stoei. Ek het versterking ingeroep en buurtwaglede Peggy Roux, Elmarie Landman en Taylor Shelver het my bygestaan." Volgens Koekemoer het die verdagte pepersproei in sy besit gehad en is die vermoede dat hy dit gebruik om honde by wonings wat hy teiken te spuit.
Die verdagte, in sy laat 30's is gearresteer op 'n aanklag van poging tot inbraak.
Verdere ondersoek het dit aan die lig gebring dat hy ook deur die departement korrektiewe dienste gesoek word in verband met 'n uitstaande lasbrief vir inhegtenisname.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'