MOSSELBAAI NUUS - Goeie samewerking tussen die polisie en buurtwag het vandag, 21 Oktober weer eens ‘n uitstekende teenvoeter vir misdaad blyk te wees.
Pastoor Shawn Stevens van die Lede in Christus kerk se voertuig het by die kerkgronde in Katjiepieringstraat, Hartenbosheuwels gestaan.
Die kerkgebou word tans geverf. Een van die verwers het opgemerk dat iemand in Stevens se voertuig by die pastorie langs die kerk doenig is.
Stevens het twee onbekende mans by sy voertuig betrap.
Die verdagtes het op die vlug geslaan, waarna Stevens hulle agternagesit het. ‘n Gemeentelid het Stevens te hulp gesnel en die buurtwag asook Da Gamaskop-polisie is geaktiveer.
Die verdagtes het tot op die R102 gevlug en in die bosse verdwyn, waar hulle toe deur die buurtwag voor stok gekry is.
Met die polisie se aankoms is die verdagtes aan hulle oorhandig. ‘n Selfoon en ‘n mes is in die verdagtes se besit gevind.
Stevens het die verdagtes positief uitgeken.
Die verdagtes is tans in die Da Gamaskop-polisie se aanhoudingselle en sal Vrydag voor die hof verskyn.
Ao Barnard, pastoor Shawn Stevens, Ruan en Vian Beukes van die buurtwag en sers Petersen wat die skelms aangekeer het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'