Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die voorkoms van slange in Mosselbaai en omgewing is nie ongewoon nie.
Juis omdat groot gedeeltes van hierdie omgewing uit bewareas en verskeie beboste oop erwe bestaan.
Dit is dan ook die rede waarom inwoners dikwels met ongediertes kennis maak. Meeste wilde diere van die omgewing is onskadelik, maar slange is 'n perd van 'n ander kleur.
Pofadders en Kaapse kobras is volop en kom dikwels in konfrontasie met mense en hul huisdiere.
Hannie van Wyk (87) en haar drie dogters, Maggie Cobban (71), Stienie van der Berg (64) en Elaine Taylor (62) woon saam in Grysboklaan, Reebok. Van der Berg, 'n verpleegster, het nadat sy 'n pasiënt besoek het, 'n volgroeide pofadder in die pad naby hul woonhuis gesien. Bure het die slang gevang en in die bosse vrygelaat. Sy het ook 'n slang langs die huis opgemerk en hulle het die brandweer gekontak, maar kon die slang nie in die hande kry nie.
Maandag, 11 Oktober toe die vroue tuiskom na hulle sewe Yorkie-hondjies toe, ontdek hulle 'n ontstellende vonds in die sitkamer. Taylor wat eerste op die toneel afgekom het sê dit was net skuim, urine en stukkies slang. 'n Pofadder van ongeveer 30cm het in stukke op die teëlvloer gelê.
"Dit moes 'n woeste geveg gewees het," sê Taylor.
VIDEO: Yorkies troef slang se kind
Twee van die vier Yorkies wat hulle in die huis gelos het, Kleintjie en Zoë, is deur die slang gepik. Die ander twee Yorkies, Cinderella en Taai het die gif vrygespring. Die vier hondjies is inderhaas na die veearts geneem waar die twee gepikte Yorkies 'n dosis teengif gedeel het. Cinderella het klaarblyklik die slang aan die stert beetgehad, want haar bekkie was vol skuim. Kleintjie is agter die oor en op die keel gebyt, terwyl Zoë op die keel en neus bygekom is. Al vier hondjies is oornag by die veearts gehou en eers die volgende dag huis toe.
Cobban reken die slangetjie se ma is die een wat voorheen gewaar is en by nadere ondersoek is 'n slanggat inderdaad in die tuin gevind.
"Yorkies is besonderse wakker hondjies en het sekerlik ons lewens gered," vertel Cobban.
Van Wyk, Cobban en Taylor het almal Covid-19 gehad waarvoor hulle eers lank gehospitaliseer is en toe verder tuis moes kom herstel. Van der Berg reken dat haar rokery en die gebruik van ivermektien Covid-19 tot dusver van haar lyf af gehou het.
Op 'n ernstiger noot sê sy egter: "Die Here het my gespaar om na my sussies en ma te kyk aangesien ek die verpleegster is," sê sy.
Die vroue is dit eens, dat tussen die Covid-19 en die slangepisode, is die genade nietemin groot.
Maggie Cobban met Kleintjie, Hannie van Wyk en Cinderella, Elaine Taylor met Zoë en Stienie van der Berg saam met Taai. Foto: Jannie du Plessis.
Al wat oorgebly het van die 30cm lange pofadder nadat vier Yorkies die slang in die sitkamer betrap het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'