MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope week het die sosiale mediaplatform, facebook behoorlik gegons nadat 'n foto van 'n muskeljaatkat met sy kop in 'n plastiese houer dood op Boggomsbaai se strand gevind is.
Hierdie voorval is maar slegs een van baie daaglikse gevalle waartydens onskuldige diere op gruwelike maniere omkom as gevolg van menslike nalatigheid. Plastiese produkte het deel van ons bestaan geword.
Dit het egter tyd geword om verantwoordelik met hierdie sogenaamde "gerieflike" items te begin optree. Dit is nie die plastiek se skuld nie, maar wel die verbruikers daarvan. Deur so tipe van houertjie, soos die een wat die muskeljaatkat se dood veroorsaak het, deur te sny voordat dit in n asdrom geplaas word, kon dalk die dier se lewe gered het.
Meer en meer restaurante vervang plastiese strooitjies en polistireenhouers met herwinbare strootjies en/of houers. Met volgehoue druk van omgewings- georiënteerde organisasies, en die wye publiek sal plastieksakke uiteindelik vervang word. Dit gaan egter jare neem en daarom moet elke persoon kennis neem van die probleem.
As elke persoon net in sy eie huis/kantoor/werkstasie herwinning doen, gaan daar reeds n groot verskil gemaak word.
Sakke of houers lê dikwels in die dorp rond en as die wind dit skep, beland dit in die see of in plekke waar dit tot diere, wat 'n bietjie oorskietkos daaruit wil kry, se dood kan lei.
Internasionale Strandskoonmaakdag word op 15 September gehou.
In Mosselbaai gaan verskeie organisasies saam werk om op strande opruiming te doen. Om betrokke te raak by die projek, kontak Johan Crew (082 509 0150).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'