MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het weer met Voorbaai se besigheidslui vergader om planne te beraam om die toenemende misdaadtendens in hierdie area aan te spreek.
"Mosselbaai se raad het veiligheid en misdaadbekamping geprioritiseer hoewel misdaadvoorkoming nie 'n kernfunksie van 'n plaaslike owerheid is nie. In opdrag van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, is die munisipaliteit as fasiliteerder betrokke by prosesse teen misdadigheid omdat dit ekonomiese vooruitgang in die dorp beïnvloed," het die burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir veiligheid, raadslid Anton Dellemijn, wat die vergadering gelei het, gesê.
Die munisipaliteit het reeds stappe geneem om by probleemareas ontbossing te doen en verkeersvloei te vergemaklik. Wyksraadslid vir die area, raadsheer Petru Terblanche, het 'n beroep op die eienaars van geboue in die area gedoen om hul persele te beveilig sodat die huurders in 'n veiliger omgewing sake kan bedryf.
Daar bestaan nie 'n buurtwag vir Voorbaai as sodanig nie, en besighede is aangemoedig om by die vier buurtwagte wat direk daarnaas funksioneer betrokke te raak. Die voorsitters van die onderskeie buurtwagte het voorstelle ondersteun dat besighede groter eie verantwoordelikheid moet neem vir behoorlike veiligheidsmaatreëls by hul besigheidspersele, en het die tot standkoming van 'n netwerk van gespesialiseerde kameras wat beweging in en uit die area kan vaslê, bepleit.
Die groep het wel hul kommer uitgespreek oor die gebrekkige deelname aan buurtwagte oor die algemeen, en die buurtwaglede wat wel by die vergadering teenwoordig was, vir hul opofferinge bedank.
Dit tot standkoming van 'n spesiale aanslagarea is weer bespreek en sterk gesteun.
Die operasionele bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiestasie, kapt Deon Botha het gevra dat sakelui soggens en saans hul perseel krities moet bekyk vir enige veiligheidsgebreke.
"Stap om die perseel, kyk na moontlike veiligheidsgebreke dit onmoontlik vir misdadigers om dit uit te buit."
Seisoen
"Daar is nie 'n enkelvoudige antwoord om die toename in misdadigheid te keer nie. Pas is talle veroordeelde misdadigers op parool vrygelaat en nog gaan vrygelaat word. Die polisie kan die probleem nie eensydig aanspreek nie en kort die inkoop van besigheidslui in Voorbaai om sigbare patrollies te verhoog en voorkomingsmaatreëls en strategië te maak werk."
Die komende vakansieseisoen sal op kritieke areas voorkomend opgetree word, wat onder meer verskuilde toegange tot die area sal beperk, sigbaarheid en betrokkenheid sal verhoog en spesifieke, geïdentifiseerde knelpunte sal aanspreek in samewerking met die munisipaliteit, bestaande sekuriteitsmaatskappye en die betrokke buurtwagte.
Koördineerder
Die groep het besluit dat Theodore Hibbert, voorsitter van die Dias/Voorbaai-buurtwag (083 721 1641) voorts as koördineerder sal optree. Belangstellende besigheidslui kan hom kontak. 'n Verdere opvolgvergadering, gefasiliteer deur die munisipaliteit sal in Januarie plaasvind.
Die uitvoerende raadslid vir onder meer veiligheid, raadslid Anton Dellemijn en die speaker, raadsheer Petru Terblanche, die wyksraadslid vir Voorbaai, asook senior munisipale amptenare en polisielede het Dinsdagaand met besigheidslui van Voorbaai oor die toenemende misdadigheid in die area beraadslaag. Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'