MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit oorweeg om, soos met die geval van die De Bakke-/Santos-woonwaparke, die bestuur van die gewilde Punt-woonwapark te privatiseer.
Tydens 'n spesiale raadsvergadering op Woensdag, 28 Februarie het die raad 'n aanbeveling goedgekeur dat voortgegaan word met die openbare deelnameproses wat die privatisering per tender voorafgaan van nie net die bestuur van die woonwapark nie, maar ook die aangrensende putt putt-baan, skaatsplankfasiliteit en winkel vir 'n periode van 15 jaar.
Dit is aanbe-veel dat die huurooreenkoms aan 'n aantal voorwaardes onderhewig sal wees, onder meer dat die woonwapark en ander fasiliteite die eiendom van die munisipaliteit bly.
Die instansie wat die bestuur van die fasiliteite oorneem, sal egter die woonwapark moet opgradeer tot 'n driestergradering ingevolge die toerismegraderingsraad van Suid-Afrika, en sal die fasiliteit regdeur die jaar vir besoekers beskikbaar moet stel.
Openbare deelname
Die hoofsweep van die ANC, raadslid Jovan Bruinders, het 'n dringende beroep op die raad gedoen dat die openbare deelnameproses omvattend moet wees en nie beperk moet wees tot 'n onopsigtelike advertensie in 'n koerant nie.
"Die Punt is die juweel van Mosselbaai. Dit is belangrik dat ál die mense van die dorp deeglik bewus moet wees van die raad se voorneme.
"Die mense moet aangemoedig word om hul mening oor die voorneme te laat hoor."
Ook die raadslede van die ACDP, raadslid Jeanette Gouws en Icosa, raadslid Dawid Kamfer, het benadruk dat die fasiliteit steeds gratis beskikbaar moet wees vir gebruik deur die munisipaliteit.
"Dit moet nie nodig wees vir die munisipaliteit om enige subsidies toe te staan sou dit nodig wees om die fasiliteit te gebruik nie," het raadslid Gouws gemaan.
Raadslid Kamfer het gevra dat sterk oorweging gegee moet word om die fasiliteite aan swart bemagtigingsgroepe beskikbaar te maak.
"Geen fasiliteite aan ons kus bevoordeel die agtergeblewenes nie," het hy aangevoer.
Omgewingsimpak
Volgens 'n aanbeveling aan die raad mag die nuwe bestuur van die park sommige van die bome verwyder.
Die nuwe bestuur mag van die afgekapte bome elders op die terrein met ander bome vervang.
Omgewingsvriendelike en volhoubare praktyke soos die opgaar en aanwending van reën- en gryswater moet geïmplementeer word.
By alle strukture wat oor 'n dak beskik, moet wateropgaartenks aangebring word wat vir besproeiing of die was van voertuie of woonwaens gebruik sal mag word.
Die bestuur van die ikoniese Punt-woonwapark word waarskynlik eersdaags geprivatiseer.
Opgraderings
Daarbenewens moet die bestaande omheining vervang en opgradeer word.
Die fasiliteite van die putt putt- en skaatsplankbaan en winkel moet opgradeer word en die geleentheid moet geskep word vir nuwe ondernemings of aktiwiteite wat vir die breë publiek toeganklik moet wees.
Die raad het die aanbeveling aanvaar dat die tenderspesifikasies pertinent sal moet spesifiseer oor watter bewese ervaring die suksesvolle tenderaar moet beskik en watter finansiële waarborge gelewer moet word om te verseker dat die voorgenome opgraderings wel gelewer sal kan word.
Verslag
Volgens 'n verslag wat vir die raad deur Marike Vreken Urban and Environmental Planners in Januarie 2018 gedoen is, word die Punt-woonwapark teen 'n verlies bedryf.
Die fasiliteite, sowat 3.5 hektaar groot, is gewaardeer vir net onder R7 miljoen.
Sou die bestuur van die woonwapark geprivatiseer word, moet die voorgeskrewe opgraderings deur die privaat instansie gedoen word, en sal daardie privaat instansie alle bedryfsrisiko's moet neem.
Daarenteen sal die munisipaliteit die voordeel van 'n gewaarborgde maandelikse huurinkomste bekom.
Die verslag beveel ook aan dat die tariewe markverwant sal moet wees om veral plaaslike toeriste te lok.
Die bestaande nege personeellede sal elders in die bestaande diensstaat van die munisipaliteit geakkommodeer word indien die raad na afloop van die openbare deelnameproses besluit om met die privatisering van die fasiliteite voort te gaan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'