Dit was Regter Patrick Gamble se woorde op Woensdag, 13 November, in die Rondgaande Hooggeregshof in Mosselbaai, tydens sy uitspraak oor die tragiese plaasmoord op 15 September 2012.
Regter Gamble het Treurnicht skuldig bevind aan moord en roof. Hy het gesê die feit dat die beskuldigde vir meer as 'n uur in die beknopte woonhuis was voordat me Mills tuis gekom het, daarop dui dat sy opset nie was net om te steel en te vlug nie, maar dat die moord beplan was.
Volgens Regter Gamble sou die beskuldigde nie so lank in die klein wo-ning vertoef het, as hy net waardevolle items bymekaar wou maak en vinnig daarmee wou vlug nie. Regter Gamble het bygevoeg dat Treurnicht aanvanklik sy buit bymekaar gemaak het, maar dat alles verander het toe hy die wapen in die laaikas vind. Die wapen het aan me Mills se man behoort.
"Toe het jy die mag in jou hand. Die doel was dan moord en roof, nie diefstal nie. Dit was 'n moord wat beplan was," het hy gesê.
Volgens Gamble, "sou enige huisbreker wat sy sout werd is, weet dat jy so vinnig as moontlik met jou buit moet vlug sodat jy nie gevang word nie". Treurnicht het die teenoorgestelde gedoen deur so lank in die huis te bly.
Me Mills is trompop in die middel van haar bors geskiet nadat sy die huis die middag met 'n inkopiesak ingekom het. Sy het inkopies by die Langeberg Mall gedoen en sou vriende vir aandete ontmoet. Hierdie vriende het haar later dood in haar huis aangetref toe hulle oor haar bekommerd geraak het.
Die beskuldigde het in sy getuienis aangevoer dat alhoewel hy me Mills geskiet het, hy dit nie met opset gedoen het nie en dat dit slegs 'n ongeluk was. Hy het haar familie om versko-
ning gevra en gevra dat hulle hom moet vergewe. Volgens hom, wou hy me Mills slegs skrikmaak met die rewolwer, sodat hy met haar bakkie van die toneel kon vlug. Hy was glo self geskok toe hy besef dat hy haar geskiet het. Hy kon nie verduidelik hoekom hy haar geskiet het nie.
Getuienis verwerp
Regter Gamble het Treurnicht se weergawe verwerp en gesê dit maak nie sin dat hy me Mills net wou skrikmaak nie.
Treurnicht voer aan me Mills het geskrik toe sy hom sien en toe die inkopiesak op die vloer laat val. Verder beweer hy dat hy me Mills gewaarsku het om stil te staan, maar dat sy nader beweeg het om die rewolwer by hom te vat, waarna hy haar geskiet het.
Die beskuldigde, wat in Groot-Brakrivier woon en standerd 8 in die plaaslike hoërskool voltooi het, het op die betrokke dag, 28km op sy fiets na die plaas gery, omdat hy daar wou inbreek en steel. Hy het 'n paar maande vantevore vir twee dae werk op die plaas gedoen.
Treurnicht het, voordat hy na die plaashuis gery het, mandrax tablette en dagga gerook en by 'n "dobbelpoel" kaart gespeel. Die idee van 'n inbraak het toe by hom 'opgekom'. Hy kan nie verklaar hoekom hy juis na die plaas Potsteelhoogte met 'n geleende fiets gery het om daar in te breek nie, terwyl hy goed bekend was met luukse huise in die Groot-Brakrivier omgewing wat beter teikens sou gewees het.
Regter Gamble het opgemerk dat, hoewel Treurnicht dwelms gebruik het, hy steeds nugter en by sy volle verstand was. Treurnicht self het gesê die dwelms het nie veel aan hom gedoen nie, maar dat hy 'satisfied' gevoel het. Regter Gamble het Treurnicht as intelligent beskryf, maar dit bevraagteken waarom 'n intelligente persoon nie 'n verduideliking kan gee vir sy optrede nie.
Treurnicht het vorige veroordelings wat, onder meer, roof insluit. Verskeie familielede het hom in die hof ondersteun, waaronder sy ma.
Regter Gamble het die beskuldigde, Roger Treurnicht lewenslange gevang-enisstraf vir die moord op me Mills opgelê en 15 gevangenisstraf vir die roof van haar besittings. Dit moet samelopend uitgedien word.
Die beskuldigde en sy familie was emosioneel tydens die aanhoor van sy vonnis.
Die saak is deur Ao Sias Weyers van Groot Brak SAPD ondersoek.
Die beskuldigde, Roger Treurnicht, saam met sy regsverteenwoordiger, Adv Stephan Lourens. Foto: Dave van der Merwe
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'