Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Met die titel van tweede prinses by verlede jaar se Mej Eden SA skoonheids-kompetisie, het die gogga van al die opwinding en glans 'n plaaslike jong vrou gemotiveer om meer aan sulke kompetisies deel te neem..
"Nooit het ek gedink dat ek ooit 'n skoonheids-kompetisie-meisie sou raak nie tot ek die gevoel gekry het van my eerste keer op die verhoog," vertel Michelle Smit, 'n 31-jarige inwoner van Heiderand in Mosselbaai.
"Ek onthou dit nog soos gister, ek wou hiperventileer net voor ek moes uitstap maar toe ek eers terug was agter die verhoog het ek 'n gevoel gehad van 'n groot prestasie. Ek het dit gedoen."
Smit het gesien daar is 'n Mnr en Mej Westelike Provinsie skoonheidskompetisie wat heelwat groter was en het die kans gevat om in te skryf. Sy het in die Kaap aan die kompetisie gaan deelneem. "Dit was 'n wonderlike ervaring met ongelooflike goeie mense," sê sy.
Hoewel sy nie onder die top drie was nie, het sy die titel gewen as Mej Westelike Provinsie ambassadeur.
Sy en haar kêrel het so jaar en 'n half gelede 'n projek begin waar hulle in die gemeenskap ingaan en na die diere gaan kyk.
Hulle gee kos, sit loopdrade op, neem siek diere veearts toe en rig hokke op.
Die projek se naam is Project Blessing wat 'n geregistreerde nie-winsgewende besigheid is.
Tans tref hulle reëlings vir 'n funksie op 21 Januarie by die Bahai Blue restaurant in die Diaz Hotel waarmee hulle beplan om donasies en fondse in te samel vir die ondersoeke by veeartse en die medikasie van die diere.
"Na die toekenning as 'Ambassadeur' tydens die Mej Westelike Provinsie skoonheids-kompetisie, het ek die kans gesien om nie net myself as jong vrou op te bou en ander dames te motiveer en te inspireer nie maar ook om die projek te laat groei sodat ons 'n groter verskil kan maak in ons gemeenskap."
Haar volgende kompetisie (pageant) is die Snow Queen and King 2023 waartydens sy aan die aanlyn-skoonheids-kompetisie gaan deelneem asook Beauty with a Purpose wat liefdadigheids-werk behels.
Die finaal is op 27 Mei.
"Ek is ook tans 'n deelnemer aan die Dream Girl SA 2023-kompetisie wat ook grootliks wentel om entrepreneurskap en liefdadigheid," sê Michelle. Sy is ook 'n trotse ambassadeur vir Bunting Boutique wat veral rokke verskaf vir verskillende geleenthede.
"Ek is baie opgewonde oor wat die toekoms vir my en ons projek inhou en sonder die ondersteuning van my kêrel, Anton Siebert en my familie sou ek nie vandag wees waar ek is nie," sê die jong ambisieuse vrou.
VIDEO - Plaaslike skoonheid is ambassadeur en diereliefhebber (Onderhoud: Aniké Carelse en Video: Jannie du Plessis).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'