MOSSELBAAI NUUS - Buurtwagte in die groter Mosselbaai doen 'n beroep op inwoners om nie swart vullissake vroeër as wat nodig is op straat vir verwydering uit te sit nie.
Sakke wat die vorige aand, of selfs vroeër uitgesit word, lok sakkrappers wat dit oopskeur om enigiets bruikbaar daaruit te haal.
Hierdie gewoonte lok egter ook kwaaddoeners en veral diegene wat op die uitkyk is vir opportunistiese misdade.
Waarop inwoners gewoonlik nie ag slaan nie, is dat waardevolle persoonlike inligting, soos onder meer rekeningnommers, demografiese inligting soos hoeveel persone op die perseel woon, en selfs die inwoners se geslag en ouderdomme, word soms ondeurdag beskikbaar gestel.
"Sakkrappers kan selfs vasstel of daar honde op die erf is, en wat die grootte van die honde is deur na die ontlasting wat in sakke weggegooi word, te let."
Bure kan gerus ook mekaar behulpsaam wees deur van hul sakke voor vakansiehuise te plaas. Wanneer sakke nie voor huise voorkom nie, skep dit die indruk dat die huis onbewoon en dus maklik getteiken kan word.
Inwoners lok ook ongewenste elemente wat herhaaldelik na die area sal terugkeer wanneer kospakkies saam met swartsakke uitgesit word.
Indien moontlik, moet bydraes liefs aan skuilings of erkende sopkombuise beskikbaar gestel word.
Die munisipale woordvoerder, Colin Puren het by navraag bevestig dat geen munisipale verordening inwoners verbied om sakke voortydig op die sypaadjie uit te sit nie. Hy benadruk dat inwoners verkieslik sover moontlik sakke op die betrokke dag voor 07:00 moet uitsit.
"Die munisipaliteit ondersteun die buurtwagte se versoek dat inwoners groter verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet neem deur swart sakke die oggend van die geskeduleerde verwydering eers op die sypaadjies te plaas."