Gallery
MOSSELBAAI NUUS - 'n Tekort aan swart leer is daar selde by motorfietsbyeenkomste en die Cupcake Angels Bike Run is geen uitsondering nie.
Behalwe dat daar 'n veelvoud verskillende skakerings pienk ook gesien word.
Hierdie breinkind van baasbakster Juanita Terblanche, het die byeenkoms wat op Sondag, 6 Augustus plaasgevind het, vanjaar ongeveer 300 motorfietsryers teenoor verlede jaar se 90 gelok. Nog 'n addisionele 100 toeskouers het ook die terrein by De Bakke besoek.
"Ek het die Cupcakes of Hope Foundation op facebook raakgesien. Verlede jaar het ek self ook begin motorfiets ry en aangesien ekself koek bak, het ek op die idee gekom vir die geleentheid."
Sy registreer toe as Mosselbaai se Cupcake Angel.
Juanita skryf die geleentheid se groei daaraan toe dat sy sedert sy aktief motorfietsry, met baie nuwe motorfietsklubs te doene gekry het. Sy vertel dat die geleentheid vanjaar amper nie plaasgevind het nie, vanweë persoonlike verlies wat sy ervaar het.
Haar vriend, Leon Coetzee wat sy met verlede jaar se Cupcake Run ontmoet het, is vroeër vanjaar in Maart oorlede tydens 'n motorfietsrit met Juanita as ooggetuie.
"Dit was vir my baie swaar en moeilik. Ek wou eers nie vanjaar die geleentheid aanpak nie, maar my biker-familie het aangedring en ons het op einde besluit Leon sou wou hê dit moet voortgaan. Ek het 'n bietjie laat weggespring met die beplanning, maar alles het goed uitgewerk. Die beplanning en besig bly het my baie gehelp om deur my eie emosies te werk."
Fondse om so 'n geleentheid te laat realiseer is maar altyd die moeilike deel. Gelukkig het die Mosselbaai Tafelronde weer hulle kant gebring.
" Wat ek die meeste geniet is die eindproduk. Om van niks iets te maak. Om terug te staan en te kyk na almal wat opgedaag het. Amper soos Daardie stukkie uit 'n film 'if you build it they will come, beskryf die gevoel goed. Om almal gelukkig te sien, die ondersteuning te kry en om almal op die gronde te sien vir hierdie goeie saak. Dis vir my die lekkerste."
Juanita het deur baie emosionele trauma gewerk gedurende die afgelope maande in aanleiding tot Sondag se geleentheid. "Om deur 'n traumatiese ding te werk in jou lewe nie altyd maklik nie. Maak seker jy het familie en vriende wat jou ondersteun. Moet nie dat enige iemand jou onder druk plaas om gesond te word nie. As jy wil huil, huil. Skree as jy wil. Sit op jou hopie as vir n wyle, maar staan weer op. Kyk jouself in die spieël en soek die sterk persoon daar binne, want elke een van ons het daardie een. Maar dit maak nie van jou 'n swakkeling nie."
ARTIKEL & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'