MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak van poging tot brandstigting na aanleiding van 'n beweerde gesinsgeweldvoorval wat op Donderdagaand, 30 November om 23:20 plaasgevind het.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie is 'n petrolbom na 'n karavaan in die agterplaas van 'n woning in Robinstraat 127 geslinger.
Die inwoners van die karavaan het die petrolbom, wat reeds aan die brand gesteek was betyds kon blus voor dit ontplof het.
'n Vyf-en-veertigjarige man is op 1 Desember omstreeks 07:00 in verband met die voorval deur kst Sherman Kiewiet in hegtenis geneem.
Hy sou gister voor die hof verskyn.
Volgens kapt Wollie Fourie het die man na bewering 'n beskermingsbevel teen hom oortree wat tot verdere klagte teen hom kan lei.
Kaptein Fourie het gesê dat die klag van poging tot brandstigting ook versterk kan word na 'n klag van poging tot moord.
"Dit is kommerwekkend dat hierdie tipe voorvalle plaasvind, juis te midde van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders," het kapt Fourie gesê.
Die saak word ondersoek deur sers Adele Binneman.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'