MOSSELBAAI NUUS - Twee verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met 'n gewapende rooftog by die Patrick's-restaurant op Mosselbaai het die afgelope week vir 'n vierde keer vir 'n borgaansoek in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Die mans, Johandre Pietersen (29) en Sephenathi Kunx (24) is kort na die voorval by hul onderskeie wonings op KwaNonqaba in hegtenis geneem.
Inwoners was geskok om te hoor van die voorval op Woensdag, 30 Januarie by die restaurant in Marshstraat. Die verdagtes was gewapen met twee messe en 'n kapmes en het om ongeveer 02:10 toegang tot die restaurant verkry deur die agterdeur oop te breek. Twee werknemers van die restaurant wat ten tye van die voorval die aand se geld getel het is met die wapen aangehou en ook vasgebind.
Die verdagtes het met onder meer R50 000 kontant gevlug en ook die perseel se video-materiaal verwyder.
Die werknemers kon daarin slaag om hulself los te woel en hulp ontbied.
Volgens polisiewoordvoerder ao Pieter Koekemoer is Pietersen en Kunx op 'n uitkenningsparade uitgewys as die persone wat die restaurant beroof het.
Die polisie het ook vermoedelik gesteelde goedere by die twee se wonings gekry wat met ander sake verbind kan word. Op Maandag, 18 Maart is die borgaansoek vir 'n vierde keer uitgestel, die keer omdat die tolk siek was.
Die verdagtes bly in aanhouding en verskyn weer op 10 April in die hof.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'