MOSSELBAAI NUUS - God ken jou naam, maar nog te meer ken Hy die roeping waarvoor Hy mense geskape het.
Pastoor Shaun Stevens (38), die oudste van twee kinders het grootgeword in Mosselbaai waar sy pa die presiderende pastoor van Lede in Christus Kerk op die dorp was.
In 1999 word die Stevense verplaas na Wesmoot, Pretoria.
Die jong Shaun ontmoet vir Michele Barnard. Die twee jongmense dien op die Westmoot-gemeente se jeug- en Sondagskoolraad. Later het hulle die gemeente se jeugleiers geword. In 2005, trou Shaun en Michele. In dieselfde jaar word Shaun se ouers die geleentheid gebied om 'n gemeente in Hartenbos Heuwels te kom vestig.
God rig die jong egpaar, Shaun en Michele se voetspore in 2006 na die Lede In Christus-gemeente op Brits. Hier dien hulle weer as jeugleiers en ook op die kerkraad vir etlike jare. In 2012, loop hulle pad weer terug na Lede in Christus Oosmoot-gemeente in Pretoria waar hulle dien as superintendente van die Sondagskool en later assistent-pastore word. Bevordering tot mede-pastore van Oosmoot-gemeente volg en hulle word verder aangestel as streeksvoorsitters van die Sondagskool.
Twintig jaar later loop pastoor Shaun in die spore van sy aardse pa nadat hy onlangs die presiderende pastoor geword het van die gemeente in Hartenbos Heuwels. Pastoor Shaun is ook die Suid-Kaapstreek se Sondagskoolvoorsitter.
Tans is die gemeente in sy 14de bestaansjaar en ook hier het pastoor Shaun se ouers die regte fondasie gelê waar hul seun nou sy roeping hier in Hartenbos kom volstaan.
Die egpaar het drie kinders.
Pastore Shaun en Michele Stevens nooi die gemeenskap hartlik uit om hulle te kom ontmoet by Lede in Christus Kerk, Hartenbos Heuwels.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'