Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die studente wat op Woensdag, 14 Oktober hulle kwalifikasie in pastorale narratiewe terapie ontvang het, getuig daarvan dat hulle ryker mense is na die twee jaar se soms bloedsweet tydens hulle studies.
Die Caritas Care Centre se sertifikaat-oorhandiging is in die Diaz Strand Hotel gehou.
Sedert die kampus vier jaar gelede op Mosselbaai gevestig is, is daar reeds 170 studente wat van hierdie unieke studiegeleentheid gebruik gemaak het.
Tydens die amptelike verwelkoming, het plaaslike predikant en Caritas-dosent, ds Gerrie van Deventer gesê dat die groep ten doel het om deur hulle werk, erkenning te gee aan die waardigheid van alle mense. "Dit is immers die basis van als."
Fotogalery: Caritas Care Centre sertifikaat oorhandiging
Die afgestudeerde studente, wat elk hulle sertifikate van dosent, dr André Botha ontvang het, het geleentheid gekry om terugvoering te gee oor wat die kursus vir hulle beteken het.
Die aanbieding van kommentaar was so uiteenlopend soos elke individu self, maar die raakpunte was tog opmerklik.
Baie het gesê dat die kursus hulle lewe verander het en dat dit die beste tydsbesteding tot nog toe vir hulle was. Sommige het selfs gesê dat dit "van die mees sinvolle ding is" wat hulle nog gedoen het.
Opregte waardering vir vriendskapsbande gesmee is uit vele monde gehoor en klasmaats het in soveel woorde hulle opregte liefde teenoor en respek vir mekaar verklaar.
Bykans almal het gesê dat die kursus hulle geleer het om "met sagter oë na hulleself en na ander te kyk."
Ter afsluiting, het Elize Barnardt van Caritas gesê dat alhoewel die sertifikaat-oorhandiging 'n groot mylpaal is, dit allermins beskou moet word as die einde van die reis. "Hierdie is julle paspoort om 'n verskil te maak en ek nooi julle uit om saam te help skryf aan die storie van Suid-Afrika."
Die kursus word onderskryf deur die Universiteit van Pretoria. Foto's: Julian Scholtz
Direksielid Prudence Gelderblom, het ook haar sertifikaat ontvang. Saam met haar is dr André Botha, een van die dosente.
Ds Gerrie van Deventer, een van die dosente tydens die amptelike opening.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'