MOSSELBAAI NUUS - Sedert bespiegelinge van Covid 19-gevalle op Mosselbaai die ronde begin doen het, het dit duidelik geblyk dat pasiënte nie bereid was om daaroor te praat nie.
Hierdie week het 'n man en twee vroue, onderskeidelik 25, 47 en 87 jaar oud wat van die virus genees is, uiteindelik kans gesien om met Mossel Bay Advertiser te gesels.
'Soos melaatses'
Advertiser het voorheen berig oor 'n middeljarige vrou (47) en haar tante (87) wat vermoedelik die eerstes in Mosselbaai was wat die virus opgedoen het. Advertiser het by monde van 'n vriend van die gesin, gereeld terugvoering oor hulle vordering gekry. Die 47-jarige het uit Johannesburg gereis en is op die vliegtuig deur 'n ander passasier met Covid-19 besmet. Sy is op 19 Maart getoets en het die volgende dag die uitslag ontvang. Haar tante is later ook positief vir die virus getoets.
"Ons was baie geskok en verward toe ons die uitslag ontvang," vertel die 47-jarige vrou. 'n Seer keel en loopneus was hulle enigste simptome. Hiervoor het hulle Andolex-keelsproei gebruik en 'n daaglikse dosis van vitamiene C geneem. "Ons was vir 14 dae 90% van die tyd in ons kamers gewees, maar het gereeld buite in die son probeer kom. Die virus hou nie van hitte nie. Ons het daarom ook baie warm vloeistof gedrink." Gereeld handewas en om 'n masker te dra was deel van die pakket.
Die vrou vertel dat vrees hulle genoop het om navorsing oor die virus te doen. "Dit was ons behoud. Ons het soos melaatses gevoel. Mense was bewus van ons en het ons vuil en besmet laat voel. Selfs vriende wat ons gehelp het deur inkope of kos te bring, is geviktimiseer en daarna soos pes vermy."
Om geduld te hê, was die grootste uitdaging. "Ons moes regtig daarop fokus om positief te bly. Covid-19 het ons dissipline geleer en om heeltyd bewus van kieme te bly. Ook die waarde van vriende. En, dit het ons nader aan God gebring."
'Niemand is immuun'
'n 25-jarige Mosselbaaier wat in China werk, het op 5 Maart in Suid-Afrika aangekom, die dag wat die land se eerste Covid-19-geval bevestig is. Sy diagnose op 5 April, was nie sy eerste kennismaking met Covid-19 nie.
In 'n poging om proaktief te wees, het hy op 6 Maart sy infeksietelling laat toets. Effens hoër as normaal, het hy 'n tweede toets laat neem, wat 'n afname getoon het. Op 11 Maart het hy vir 'n amptelike Covid-19-toets gegaan. Die uitslag was negatief.
Sedertdien, was die man en sy ma in aanraking met iemand wat later positief vir die virus getoets het. "Ons vermoed dat dit op 29 of 30 Maart gebeur het. Iemand het vining iets by die huis kom aflaai."
Die gesin het die toetsstasie by De Bakke besoek. "Die dag toe ek gaan toets het, het ek gesê ek sal die uitslae neem soos ek dit kry. Toe ons op 5 April die nuus kry was ons heel oraait, maar later daardie dag het die gemoedere hoog geloop omdat ek en my ma nie saam kon isoleer nie." Sy ma is na die PetroSA-kwarantynfasiliteit.
"Omdat daar nog nie medikasie vir Covid-19 beskikbaar is nie, het ek immuunversterkers en gewone verkouemedikasie geneem. Ek het ook baie knoffel, suurlemoene, lemoene, vrugte en groente ingeneem."
Emosioneel was dit vir hom 'n groot skok, vertel die man. "Ek werk in die buiteland. Die risiko was groter om dit daar te kry, maar nou het ek dit hier gekry, waar ek op my veiligste voel, in my ouerhuis."
Hy het gedurende die 14 dae van kwarantyn daagliks noukeurig van sy simptome boekgehou. Dit sluit in redelike koors, hoes, lyfseer, slymerigheid, verlies aan smaak en reuk, ligte kopseer, naarheid, pynlike asemhaling en kortasem.
VERWANTE ARTIKEL: COVID-19 PASIëNT DEEL DAGBOEK
Bemoedigende boodskappe en gebed het hom deurgedra. "Jy is alleen in 'n kamer en soms werk jou brein oortyd. Omdat jy nie weet hoe jy môre gaan voel nie, was daar baie onsekerheid."
Hy het baie geestelike groei beleef. "Die grootste uitdaging tydens isolasie was om besig te bly en nie die kamer te kan verlaat nie. Ek het gelukkig nie juis 'n probleem om besig te bly nie."
"Niemand is immuun teen hierdie virus nie. Vir drie maande al tref ek die nodige voorsorgmaatreëls om my immuunstelsel te bou. Wat vir my 'n twee weke vakansie sou wees, is nou langer as drie maande. My boodskap aan die gemeenskap is, gehoorsaam die reëls om die virus hok te slaan."
Hy meen dis 'n baie ernstige virus. "Wat deel uitmaak van mense se vrese is die media wat negatiewe inligting deurgee. Die feite is, daar is meer mense wat van die virus genees word as mense wat as gevolg van die virus sterf. Ons moet almal ons kant bring om teen die virus te veg."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'