MOSSELBAAI NUUS - Kinderhartjies in van die kleinste dorpies in die Suid-Kaap en Karoo sal hierdie Kersfees verbly word, danksy 'n paar weldoeners in Hartenbos.
Vir die afgelope vier jaar koördineer die eienaar van Salon Ché-Manda in Hartenbos 'n projek waartydens sy Kerspakkies opmaak vir kinders wat gediagnoseer of geaffekteer word deur kanker.
Kersgeskenke word geborg deur vriende en kliënte van die salon, asook van omliggende besighede wat in die Hartenbos-arkade rondom die salon geleë is.
Verlede week het vrywilligers weer eens by Salon Ché-Manda byeengekom om die pakkies op te maak. "Ons is so dankbaar vir hierdie skenking en die moeite wat daarmee gedoen is. Die kinders, tot in van die klein dorpies in ons streek, waar daar soms net een kankerpasiëntjie is, is so dankbaar en opgewonde oor wat hulle ontvang," sê Anina Meiring van Kansa.
Sy het ook die gemeenskap aangemoedig om Kansa te kontak indien hulle van enigiemand weet wat met kanker gediagnoseer is en hul hulp nodig het. Kontak Kansa (044 874 4824).
'n Vrag geskenke vir kinders wat op een of ander manier deur kanker geraak word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'