MOSSELBAAI NUUS - Die lede van die Ithembalethu Old Age Club het Maandagoggend, 15 April die koue front al singende getroef tydens hulle byeenkoms.
Die kuiertjie was 'n voorlopertjie vir Paasnaweek en die oues het danksy die inisiatief van een van hulle lede en 'n welkome skenking van 'n plaaslike begrafnisondernemer gekry om te geniet.
Johanna Cupido, voormalige voorsitter van die klub het vertel hoe sy tydens 'n droom die oortuiging ontvang het dat sy iets vir haar medemens moet doen. "Ek het gevoel die Here sê vir my in 'n droom, 'Wat doen jy vir jou medemens?'. Ek het nie geweet wat om daarvan te maak nie. Ek het baie geworstel. Ek dink toe aan ons oumense. Ons word mos soos kinders. Ons kry ook lus vir soetigheid."
Met hierdie gedagte het Johanna kontak gemaak met Yolanda Dunkerley van Mosselbaai Bergafnisdienste, wat ingestem het om die oues voor Paasnaweek te bederf met 'n lekkergoedpakkie.
Pastoor Thandi Mdelo van die Full Gospel Church of God het die oues bemoedig met 'n boodskap uit Joshua. Sy het verwys na God se opdrag aan Joshua dat hy God se woorde aan hom altyd saam met hom moet neem. "Die wêreld verander elke dag, maar God sê dat ons nie moet afwyk van die manier waarin Hy ons in stand hou nie."
Sy het ook gesê dat volgens die Skrif, God dit duidelik maak dat Hy kinders liefhet, maar ook ouer persone. "Die wêreld raak soms geïrriteerd met ouer persone, maar nie God nie." Pastoor Mdelo het die oues ter afsluiting aangemoedig om trots te wees op dit wat hulle tydens hulle leeftyd vermag het.
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'