SUID-KAAP NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste vier op Donderdag, 5 Maart Paasfees by die Herold's Bay Resort. Dit vind 8:30 vir 9:00 plaas.
Noddy Kubani, 'n boorling van Graaff Reinet, het haar loopbaan begin toe sy saam met die welbekende sjef, Francois Ferreira in George gewerk het.
Met die begin van Francois se kookskool was Noddy een van sy eerste studente en voltooi 'n drie jaar diploma om haar toe te rus vir haar rol as sjef. Gedurende haar opleiding het sy Francois ook as tutor bygestaan.
Tydens haar studies was Kafe Serefé haar werkgewer waar sy dan ook haar prakties voltooi het. Hierna begin sy haar loopbaan as sjef by Stonehill Restaurant op Klein-Brakrivier. Die laaste nege (9) jaar is Noddy 'n sjef by Herhold's Bay Resort waar sy blootstelling aan troues en groot onthale kry.
Sy onderskei haarself as 'n sjef wat daarvan hou om op hoogte te bly van nuwe tendense in spyseniering. Noddy is nie onbekend aan die Suid-Kaapse Fynproewersgilde nie en het al met twee vorige geleenthede demonstrasies vir die gilde gedoen.
So in die gees van Paasfees gaan die volgende geregte gedemonstreer word: Chelsea buns met 'n hot cross twist, eiervrug-en-murgpampoentjierolletjies, geroosterde Marokkaanse hoender, Camembert-en-spekpakkies en churros met 'n doopsous. Lekker vars idees vir enige gasvrou se Paasfeestafel.
Gaste is hartlik welkom. Kontak Elaine Louw (083 263 5417) om plek te bespreek. Alle belangstellendes word genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle motto: "Niemand hier is kenners nie. Hier leer ons almal gesellig saam."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'