MOSSELBAAI NUUS - 'n Paartjie in hulle laat twintigs is verlede naweek met hulle tuiskoms in Curlewstraat deur twee gewapende mans beroof.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie het die 28-jarige man en sy 27-jarige vrou tuis gekom vanaf vriende om 02:55 op 6 Oktober toe die voorval plaasgevind het.
Die vrou het glo die huis binnegegaan vanuit die motorhuis toe 'n onbekende man met 'n mes gewapen agter haar verskyn het. 'n Tweede verdagte, ook gewapen met 'n mes het haar man glo gedreig.
Nadat die vrou alarm gemaak het, het die vermeende rowers hulself uit die voete gemaak nadat hulle die die vrou se handsak en 'n selfoon gebuit het.
Die egpaar se vierjarige kind was ten tye van die voorval in sy ouma se sorg en nie op die perseel nie.
'n Saak van gewapende roof word ondersoek deur ao Arleen Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'