Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ry mens op die R102 van Mosselbaai na George, val die besondere mooi landskap jou op met die geil, goudgeel canolavelde en die blou Outeniquaberge in die agtergrond.
"Idillies" is die gedagte wat by jou opkom. Maar soos in alle dele van ons land, is landelike veiligheid nie meer 'n gegewe nie.
Die Outeniqualand-plaaswag is sowat twee jaar gelede begin om die groeiende misdaad in die plaasgemeenskap aan te spreek.
Binne dae het die gemeenskap genoeg geld geskenk om kameras aan te koop, te installeer en patrollies te ry. Volgens Dewald de Kock, voorsitter van die plaaswag, moet mense besef dat hulle na hul eie veiligheid moet omsien en self verantwoordelik is om hul toekoms in die gebied te verseker.
"Die area brei vinnig uit en daarmee saam kom 'n toename in misdaad."
VIDEO - Dewald de Kock (Video: Alet Engelbrecht ).
Die plaaswag werk nóú saam met die polisie en hul tegniese toerusting help dikwels om misdadigers te identifiseer.
Dwelmhandel was 'n groot probleem toe die plaaswag begin is, maar is nou bykans uitgeroei in die area.
Hommeltuig
'n Hommeltuig is onlangs aangekoop en die infrarooi-tegnologie help om boosdoeners wat in die nag onder die digte bosse wegkruip, op te spoor en aan te keer. Volgens Leon Kruger, streeksbestuurder van Safire Versekering, wat 'n gedeelte van die hommeltuig geborg het, is mense op plase afgesonderd en 'n sagte teiken vir misdadigers. "Ons moet almal saamstaan om landelike veiligheid op te skerp en gemeenskappe veilig te hou," sê hy.
Die Sentraal Suid-Koöperasie het fondse beskikbaar gestel om borde by elke plaas op te rig. Dié borde dui die plaas se nommer in die distrik aan wat dit vir die polisie makliker maak om vinnig by 'n noodsituasie uit te kom.
Volgens 'n woordvoerder van SSK, Annelie van Wyk, is landelike- en plaasveiligheid vir hulle 'n groot prioriteit.
"Ons is daarom trots op ons betrokkenheid by dié inisiatief van Outeniqualand-plaaswag om ons plase en mense te beveilig."
Sowat 60 lede doen diens om ongeveer 200 plase in die gebied te patrolleer.‘n Bord met plaasnommer help die SuidAfrikaanse polisie om vinnig by noodsituasies uit te kom.
Die hommeltuig met infrarooi tegnologie wat gebruik word om boosdoeners in die nag op te spoor.
Een van die borde wat aangebring is om plaasveiligheid op te skerp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'