MOSSELBAAI NUUS - Op Hartenbos het die dinge behoorlik gekook tydens die aanwys van die eerste Ouma Hartenbos op 27 Desember 2021.
Volgens Trudie Stander, organiseerder van die kompetisie is dit 'n eerste, maar beslis nie die laaste van sy soort wat jaarliks gedurende die somervakansie aangebied gaan word nie.
Lede van die gehoor het dit beaam met die woorde: "Hierdie gaan nog groter as skoonheidskompetisies vir jonges word. Dis net te veel pret."
Onder die oumas wat deelgeneem het, het Georgiet Bridgette Tosen met die louere weggeloop.
Van die kategorieë waarin die oumas hulle flikkers moes gooi, was stranddrag, 'n uitbeelding van hulle kleinkinders se tipiese kleredrag en gedrag, asook hoe ouma sou aantrek om dorp toe te gaan as oupa by die huis sou bly.
Sanger, akteur, skrywer en televisie-aanbieder, Tobi Jooste was die programleier en eweneens treffer onder die vroue - oud en jonk.
Plaaslike glans-ouma, Aunty Ethel het as spesiale gas tydens die geleentheid opgetree. Sy het die verrigtinge tydens Jooste se sang onderbreek deur aan te dring om vir die kompetisie in te skryf, aangesien sy oortuig was dat sy dit sou wen.
As "troosprys" is 'n vergunning gemaak dat sy die verhoog vir 'n wyle met Jooste kon deel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'