Video
MOSSELBAAI NUUS - Hervin Botha, 'n inspirerende jong man van Sonskynvallei, kan nie anders as om met 'n sagte hart vol passie na ander om te sien nie.
Hy het sy eie ma op 'n jong ouderdom verloor en is deur sy Ouma in die Tsitsikamma in die Oos-Kaap groot gemaak.
"Ek is 'n Oumakind en het 'n besondere passie om oumense en kinders te help." Hy het in 2016 in Jeffreysbaai opleiding as versorger gekry en daar gewerk totdat hy net voor die Covid-pandemie na George verhuis het.
Hervin het sy lewensmaat daar ontmoet en hulle het twee jaar gelede in Sonskynvallei kom woon.
Hy vertel, "Ek het vinnig die nood raakgesien toe ek die oumense besoek het en het begin om vir hulle iets soets te neem om te eet. Maar die kinders en ander mense wat honger kry, het my aangespoor om vir hulle sop te maak sodat hulle iets voedsaam in die maag kon kry".
Hervin se sopkombuis het in Februarie 2022 amptelik begin met 'n paar instansies en privaat individue wat hom help met broodjies, sopbene en vleis. Met Hervin se geduld, sagte geaardheid en hande wat vir niks verkeerd staan nie, lewer hy 'n onmisbare diens in die gemeenskap.
Een van die gemeentelede het 'n vrieskas gekoop en reggemaak en vir Hervin se kombuis geskenk.
Noudat die vleis nie dadelik gaar gemaak hoef te word nie, kan hy beter beplan en meer kos op 'n slag gaar maak. Hervin het aansoek gedoen en het onlangs sy nie-winsgewende organisasie (NPO-) sertifikaat ontvang.
Hy beplan ook 'n koek-en-tee geleentheid vir 50 bejaardes van die plaaslike gemeenskap in November. Hervin het vinnig die behoefte raakgesien en beplan nou 'n Oumensklub vir volgende jaar waar die ouer mense van die gemeenskap een keer 'n week gesellig kan verkeer en aktiwiteite kan beoefen om hul hande besig te hou en denke te stimuleer.
Indien jy Hervin se sopkombuis wil ondersteun, skakel hom by (063 801 8786).
VIDEO - Hervin Botha het pas Hervin se Sopkombuis as n NPO geregistreer. Hy verduidelik waarom dit vir hom n passie is om ander te help (Video: Alet Engelbrecht).
Die kinders se name word opgeskryf om rekord te hou van hoeveel gehelp word.
'n Groep skoolkinders in Sonskynvallei met hul kosbakkies om by Hervin se Sopkombuis kos te kry.
Kinders van Sonskynvallei staan tou vir 'n heerlike bord kos by Hervin se Sopkombuis wat hulle twee keer 'n week voorberei.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'