Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Nagenoeg 270 senior burgers het Vrydag in die ACVV Kenani se saal byeengekom om World Elderly Abuse Awareness Day (WEAAD) te gedenk.
Dié dag word jaarliks internasionaal op 15 Junie, knap voor Nasionale Jeugdag, 16 Junie gedenk.
Oues verteenwoordigend van 18 klubs van regoor die Eden-streek het die program bygewoon, waar hulle opnuut gesensiteer is oor hulle regte as volwaardige landsburgers en hoe kwessies van mishandeling aangespreek kan word.
Nie net is prosedures onder die teenwoordiges se aandag gebring nie, maar die vorme van mishandeling, hoe subtiel ook al, is uitgewys.
Met die WEAAD-tema vanjaar, Lifing Up Voices, is 'n interaktiewe program aangebied.
Die groepe is gevra om elkeen deur middel van 'n lied, 'n gedig, rolspel of iets dergerliks op die verhoog 'n item te lewer.
Dit het 'n verskeidenheid gebied wat die gehoor in sommige gevalle laat skaterlag en in ander, 'n traan laat wegvee het.
Rolspel het ingesluit die steel van 'n ouer persoon se geld deur kleinkinders wat haar SASSA-kaart bekom en 'n prettige "vasvra" oor onaanvaarbare optrede teenoor ouer persone wat as vorme van mishandeling beskou kan word. Daar is ook koorsangitems gelewer, gedigte voorgelees en meer.
Verskeie gassprekers het tydens die geleentheid opgetree. Volgens Susan Boshoff, bestuurder van Kenani, sal daar in die toekoms na 'n groter lokaal vir die byeenkoms gekyk moet word, aangesien die bywoningsgetalle so dramaties gegroei het.
Almal teenwoordig het pers gedra, die kleur vir WEAAD, om solidariteit te toon teen die mishandeling van oues.
Rolspelers van verskeie departmente, tehuise en ander organisasies wat ouerpersone verteenwoordig tydens 'n seremonie wat daarop dui dat hulle standpunt inneem teen mishandeling van seniors.
Die ACVV Kenani se saal was propvol met nagenoeg 270 mense wat die program bygewoon het teen mishandeling van ouer persone.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'