MOSSELBAAI NUUS - 'n Kleinseun van een van die inwoners van 'n plaaslike ouetehuis het 'n vindingryke plan beraam sodat bejaardes en hulle geliefdes tydens die inperking veilig kan kuier.
Sedert Maart het meeste tehuise vir bejaardes in Mosselbaai 'n moratorium geplaas op besoeke ten einde hulle inwoners teen Covid-19 te beskerm.
Jaco Mouton, wie se ouma 'n inwoner van een van die ACVV Seebries-tehuise is, het egter besluit om iets aan die saak te doen.
Mouton het 'n klein gazebo wat soos 'n pophuis lyk aan beide tehuise, Onse Rus en Ons Huis geskenk. Beide gazebos is gedurende die afgelope twee weke in ontvangs geneem.
Volgens Amanda Prinsloo, bestuurder van die tehuise, word besoeke aan bejaardes wel nou toegelaat, maar besoekers mag nie die tehuis binnegaan nie. "Die 'pophuis' staan in ons binnehof. Wanneer een van die bejaardes besoek ontvang, gaan sit hulle binne-in en die besoekers sit buite in die opelug. Dit is te cute."
Mouton is egter baie beskeie oor sy vindingryke weldaad. Hy wou glad nie 'n groot ophef daarvan gemaak hê nie toe die Mossel Bay Advertiser vandeesweek navraag by hom doen. "My ma het my ouma bykans vyf maande laas gesien en dit was maar my groot motivering om hierdie plan te maak."
Een van die oulike strukture waar bejaardes nou besoek kan ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'