MOSSELBAAI NUUS - Daar word nie verniet gesê dat daar wysheid in die grysheid is nie. Die Wonder Years, soos die Mossel Bay Older Persons Committee van Friemersheim hulleself noem, het tydens ‘n program aangebied op Dinsdag, 12 Julie, hulle beste advies met die jeug gedeel.
Die program is aangebied deur die Mosselbaai-munisipaliteit se kantoor vir sake wat verband hou met geslag, MIV/VIGS, bejaardes en gestremdheid.
Tydens die byeenkoms, wat gefasiliteer is deur Alma Kapp, ‘n gemeenskap-ontwikkelingskoördineerder, het die groep hulle jaarprogram bespreek. Byeenkomste word maandeliks gehou en sluit aktiwiteite soos bingo, binnenshuise speletjies en handvaardighede in.
Die byeenkomstye vir die jaar is 11 Augustus, 8 September, 19 Oktober en 30 November.
Willem Trantraal (74) se raad aan die jeug.
Die groep, as deel van hulle inisiatiewe waarby die gemeenskap betrek word, beplan om by die plaaslike biblioteek ‘n lees- en aktiwiteitsuur vir jong kinders aan te bied. Die eerste hiervan word op Vrydag, 22 Julie gehou.
Die fokus van vandeesweek se program was egter om ouer persone se stem na buite te dra, aldus Kapp. Dit is deur middel van plakkate gedoen waarop hulle hul wyse woorde met jongmense kon deel.
Die 73-jarige Joan Speelman het jongmense aangemoedig om met hul studies klaar te maak sodat hulle die toekoms kan begroet.
“Kinders, eer julle ouers sodat dit met julle goed kan gaan,” was Willem Trantraal (74) se raad.
Die 70-jarige Susan de Lange se boodskap was weer: “Jesus het jul baie lief. Beskerm jou liggaam.”
Die 79-jarige Rozetta Laminie met haar plakkaat van bemoediging.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'