Dié sonnige kind, wat saam met sy gesin vroeg verlede jaar na 'n plaas in Gauteng, naby Hartebeespoort verhuis het, is op Woensdag, 5 Februarie oorlede as gevolg van komplikasies wat vermoedelik deur 'n giftige spinnekopbyt veroorsaak is.
Volgens bronne ná aan die gesin, het André na afloop van 'n atletiekbyeekoms waaraan hy deelgeneem het die vorige Vrydag, 'n maagvirus ontwikkel. Teen Maandag is hy egter weer skool toe, maar het die Dinsdagmiddag begin kla van krampe in sy bene.
Sy ma kon egter slegs 'n doktersafspraak kry vir die Woensdagoggend, waartydens die vermoede ontstaan het dat André moontlik 'n bloedklont het. Hy is onmiddellik verwys vir hospitaalopname.
Ten tye die ambulansrit na die hospitaal, het hy 'n hartaanval gehad. Met sy hospitaalopname, het hy drie agtereenvolgende hartaanvalle gehad, waarna mediese personeel nie daarin kon slaag om hom by te bring nie. Hy is hierna dood verklaar.
Bronne het bevestig dat 'n forensiese doodsondersoek, waarvan die finale uitslag teen druktyd nog nie beskikbaar was nie, tot die vermoede aanleiding gegee het dat 'n giftige spinnekopbyt vir André se dood verantwoordelik kon wees.
'n Roudiens is Woensdag vir André gehou by die Lewende Woord-kerk in Centurion. Hy was in Laerskool Swartkop.
Santie Maritz, wat in graad 3 vir André skoolgehou het, sê dat hy 'n baie liefdevolle seun was wat hard gewerk het in die klas. "Die besonderse band tussen André en sy ma het my altyd opgeval."
'n Goeie vriendin het namens sy ma Sandri aan die Advertiser gesê dat van André se as by die dolosse by Kaai 4 gestrooi sal word, aangesien dit sy gunsteling snorkelplek in Mosselbaai was.
Sandri, Franco, Sanja en Michael bedank die Mosselbaaise gemeenskap vir die ondersteuning en boodskappe met André se tragiese afsterwe. André sou op 28 Februarie sy 13de verjaarsdag gevier het.
Spinnekopbyt kán dodelik wees
Die Advertiser het 'n plaaslike mediese praktisyn geraadpleeg oor die moontlike effek van 'n onbehandelde, giftige spinnekopbyt.
Daar is meer as 2 000 soorte spinnekoppe in Suid-Afrika. Meestal is spinnekoppe nie gevaarlik nie.
Daar is egter twee soorte spinnekoppe wat met sitotoksiese gif erge skade kan aanrig. Hierdie gif vernietig weefsel en kan wonde veroorsaak wat jare vat om te genees. Alhoewel hierdie bytplekke selde noodlottig is, kom sterftes wel voor - veral in ouer mense, chroniese siek pasiënte en individue met immuungebreke.
Die vioolspinnekop en die gelerige sakspinnekop is van die mees algemene draers van sitotoksiene en kom oral in Suid-Afrika voor. Die sakspinnekop is aggressief en gaan maklik tot aanval oorgaan wanneer dit bedreig voel. Byte kom veral snags voor.
Die bytmerk is gewoonlik redelik onopvallend aan die begin, maar sodra weefselnekrose (weefsel wat verrot) voorkom, ontstaan 'n duidelike wond. In uitsonderlike gevalle kan hierdie wonde redelik groot wees.
'n Sekondêre komplikasie kan intree indien die wonde besmet raak met ander organismes wat veral die afsterf van weefsel kan versnel. In sulke gevalle ontstaan daar infeksie wat deur die bloed versprei kan word. Septisemie – wanneer toksiese stowwe en organismes deur die bloed na die liggaam versprei word, wat fataal vir die slagoffer kan wees.
"Alle wonde – veral dié wat onverklaarbaar snags verskyn – behoort fyn dopgehou te word. Indien so 'n wond erger word of besmet raak, is dit noodsaaklik dat daar aandag aan gegee word. Daar is nie 'n teenserum vir sak- en vioolspinnekoppe nie, wat tydige ondersteunende mediese behandeling beklemtoon," meen die praktisyn.

André Viljoen, 'n oud-leerder van Laerskool Hartenbos, is verlede week oorlede, vermoedelik vanwee 'n giftige spinnekopbyt. Foto: Verskaf.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'