MOSSEBAAI NUUS - Gerrit van Rensburg (72), voormalige minister van landbou in die Wes-Kaap is op 11 Januarie oorlede.
Van Rensburg, 'n oud-leerder aan Hoërskool Punt, het gedurende sy termyn diep spore in die Wes-Kaapse landboubedryf getrap en is vandeesweek in reaksie op sy afsterwe, opnuut daarvoor vereer.
In talle bydraes wat aanlyn en op sosiale media verskyn het, beskryf oud-kollegas, vriende en kennisse hom as 'n ware heer en leier, asook 'n opregte dienaar van die gemeenskap.
Met 'n besonderse hart vir plaaswerkers, is 'n groot deel van sy nalatenskap die werk wat hy gedoen het om die Wes-Kaapse plaaswerker van die jaar-kompetisie te vestig en uit te bou. 'n Werkskollega beskryf hom raak as die "vader van die landbou" in die Wes-Kaap.
Tydens sy ampstermyn, het die departement ook verskeie toekennings ontvang, soos om as die beste staatsdepartement in die land deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Regeringsouditeure (SAIGA) aangewys te word spesifiek vir die weergee van hul jaarverslag. Hierdie toekenning is drie keer agtereenvolgens aan die departement toegeken onder Van Rensburg se leierskap. Werkskepping in die landbousektor het ook tydens sy termyn floreer.
Jarelange vriend en speaker van die Mosselbaai munisipale raad, Petru Terblanche was sê egter dat soos hy Gerrit van Rensburg geken het, hy nie van 'n lang relaas oor sy lewe sou hou nie.
"Hy was hier op aarde om te dien. Hy was 'n landbouer in murg en been en lief vir die mense wat die bodem van alles moes bewerk."
Terblance en Van Rensburg het tydens hul skooljare by Hoërskool Punt ontmoet en aldus Terblanche was hulle lewenspaaie, van sport tot boerdery tot politiek, soortgelyk. "En in al die jare wat ons mekaar ken, was daar nooit 'n harde woord tussen ons nie."
Getrou aan sy opregte liefde vir die natuur, was Van Rensburg veral lief vir voëlkyk saam met sy vrou, Christa.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'