Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - “Vandag pluk julle die vrugte van ‘n jarelange strewe na beter lewensomstandighede en ‘n eie huis,” het Mosselbaai se burgemeester, Harry Levendal vanogend (Donderdag 7 September) gesê toe die titelaktes van nuwe huise in Sonskynvallei deur die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, minister Bonkinkosi Madikizela, aan 19 oud-Powertown inwoners oorhandig is.
Minister Madikizela het gesê die oorhandiging van die huise spreek ook grondrestitusie aan. Die oudste begunstigdes is die 81-jarige Gert en Christine Lawack. In totaal is 19 titelaktes op Donderdag, 7 September oorhandig.
“My departement kan nie opgewonde wees oor die oorhandiging van ‘n bewys van eienaarskap aan ‘n 81-jarige inwoner nie. Niemand behoort só lank op ‘n huis te wag nie. Dit kan nie reg wees dat mense wat onlangs eers in Mosselbaai gevestig het, bevoordeel word bo mense wat jare reeds op ‘n behuisingswaglys is nie.”
Die minister het die munisipaliteit gemaan om die behuisingswaglys só te bestuur dat die mees verdienstelike aansoekers nie benadeel word nie.
“Ek is baie beïndruk met die wyse waarop die inwoners wat vandag hier betrokke is, hul geskille bygelê het. Ek is baie tevrede met die werk wat die Mosselbaai munisipaliteit doen en my departement sal voortgaan om hul werk te ondersteun. Die uitdaging is egter om seker te maak dat die behuisingswaglys korrek die behoeftes aanspreek.”
Die minister het ook later ‘n vergadering oor bekostigbare behuisingsopsies in die Mosselbaai stadsaal toegespreek waar hy weer daarop aangedring het dat alle munispaliteite se behuisingswaglyste hersien moet word sodat die werklike behoefte aan behuising behoorlik bestuur en aangespreek kan word. Hy het gesê die behuisingswaglyste moet meer detail weerspieel sodat vir die verskillende tipe behuisingsvoorsieningsopsies beplan kan word.
Op Sonskynvallei het die begunstigdes wat hul titelaktes vir hul nuwe huise ontvang het, met breë glimlagte baie trots vertel dat hulle jare lank vir hierdie voorreg gewag het.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuirnoete nuus'