Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die seniors van Benevolent Park het vir geen jongmens teruggestaan wat betref hulle Valentynsdagviering nie.
Op Maandag, 14 Februarie was die saal opgemaak met rooi versierings en die tafel gedek vir 'n oggend se heerlike, nostalgiese vermaak.
Sommerso met die wegtrek het die oues 'n FAK-liedjie gesing onder klavierbegeleiding. Bestuurder van die oord, Kitty Thiele was eerste aan die woord om haar liefde aan die seniors oor te dra. Sy het onomwonde te kenne gegee dat haar werk vir haar 'n plesier is, juis omdat sy en haar personeel op 'n daaglikse basis met die gryses en veral hulle wysheid te doene kry.
'n Blaasorkes uit Uitbreiding 8, C Harmony het die hartsnare geroer met hulle spel, waarna 'n trio Elvis Presley se trefferliedjie uit sy gelyknamige fliek, Love me Tender gesing het. Die gehoor het met oorgawe aan die singery meegedoen.
Shirley Herman en Abe Mitas oorhandig 'n Valentynsgeskenk aan die oord se oudste inwoner, Dinah Cairncross (90). Sy het ewe 'n paar danspassies gedoen toe die geleentheid hom voordoen.
Besoekers van die departement van sosiale ontwikkeling, Marlize Kotzé en Babalwa Mgayi, het ook die geleentheid bygewoon. Mgayi het 'n praatjie aangebied oor mishandeling en vrae beantwoord oor hoe hierdie oortredings gerapporteer kan word.
Sy het gesê dat die departement se maatskaplike werkers sodanige navrae hanteer en dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens ook kan toetree soos nodig.
Shirley Herman het 'n pragtige gedig oor die onsterflikheid van die liefde in beide Engels en Afrikaans voorgedra. Die 78-jarige Godwin Bruinders het in antwoord hierop, ter afsluiting van die program ook 'n gedig uit die vuis uit voorgedra, wat met luide applous begroet is.
Onder die geklank van Stevie Wonder se Isn't She Lovely, het die vroue in die gehoor 'n paar spontane danspassies uitgehaal waarna 'n lekker eetdingetjie geniet is.
Daar was genoeg liefde in omloop te oordeel aan die drukkies en glimlagte.
Joseph O'Grady and John Hernels sing Love me Tender.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'