MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Danabaai het onlangs, op 6 Julie by die Danabaai-gemeenskapsaal 'n vergadering oor gemeenskapsveiligheid bygewoon.
Die vergadering is gehou na 'n vlaag inbrake in die gebied voorgekom het.
Privaat sekuriteitspesialiste, Nick van der Walt en Dirk de Jager, glo dat behoorlike gebeurlikheidsbeplanning en 'n doeltreffende netwerk van kameras, gerugsteun deur gemeenskapsbetrokkenheid kan bydra om gemeenskapsveiligheid te bevorder.
Op versoek van wyksraadslid, Nickey le Roux, het die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Leon van Dyk, die gemeenskap ingelig oor die munisipaliteit se geïntegreerde bestuur van gemeenskapsveiligheidstelsels.
Hy het ook die voorwaardes en vereistes vir die finansiering en installering van kameras bespreek.
Tydens die vergadering, is die gemeenskap ook deur die munisipaliteit se direkteur van infrastruktuurdienste, Dick Naidoo, ingelig oor vordering met die alternatiewe nooduitgang wat vir Danabaai beplan word. Die enkele toegang is lank reeds vir inwoners 'n brandpunt.
Die munisipale stadsbeplanner (Ruimtelike Beplanning), Jaco Roux, het meer inligting verskaf oor die dorpsontwikkeling wat tussen Paradise Cove en Pinnacle Point beplan word.
Na verskeie gesprekke, is 'n voorstel deur Wyk 11 wykskomiteelid, Marius van Wyk, aanvaar dat 'n opvolgvergadering oor sowat 'n maand gehou sal word waartydens voorstelle vir georganiseerde, grootskaalse deelname aan veiligheidsinisiatiewe indringend bespreek sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'