Trein 3358 van Transnet Freight Rail het die afgelope Dinsdag, 25 Maart, vroegoggend op die spoorlyn in Reebok, skaars enkele meters van woonhuise, ontspoor.
Die trein, wat 13 waens gesleep het, het sement en, na wat verneem word, 240 000 liter vloeibare petroleum vervoer. Sewe van die sementbelaaide waens het in die proses ontspoor. Die waens wat die petroleum vervoer het, het nie omgeslaan nie.
Die Mossel Bay Advertiser is in besit van foto's wat in Februarie vanjaar geneem is en die opsigtelike agteruitgang van die spoorlyn toon. Op die foto's kan gesien word hoe dele van die spoor op plekke vervorm is, 'n wig en grendel van die spoor eenkant lê en dele van die hout dwarslêers erg gekraak en verweer is.
Op 'n vraag aan Transnet hoekom die maatskappy, ongeag die agteruitgang van die treinspoor, steeds verkeer op die spoor toelaat, het die Senior Bestuurder: Eksterne Kommunikasie; Korporatiewe Sake, vir Transnet Freight Rail, mnr Mike Asefovitz, gesê Transnet is tans met 'n program besig waarin die hout dwarslêers tussen George en Mosselbaai met P2 beton dwars-lêers vervang word.
Volgens mnr Asefovitz is die gedeeltes waarvan genoemde foto's geneem is, onmiddellik nadat Transnet van die probleem bewus geraak het, reggestel.
'n Spoorinspekteur van Transnet inspekteer na wat verneem word maandeliks, of per trollie of per voet, die spoor. Daarbenewens word duikslote, dreinering en plantegroei inspeksies op 'n gereelde basis deur spesialiste uitgevoer. Die flitsende ligte by spooroorgange word twee keer 'n maand nagegaan.
Die laaste inspeksie voor die ontsporing van trein 3358 was, volgens Transnet se rekords, op 21 Februarie uitgevoer.
Volgens mnr Asefovitz, word die inspeksies deur tegnies gekwalifiseerde personeel gedoen wat verseker dat die spoor aan die toepaslike standaarde voldoen.
Mnr Asefovitz sê, "Transnet Freight Rail neem veiligheid baie ernstig op en ek wil beklemtoon dat ons nooit die treine sal laat loop as ons infrastruktuur nie voldoen aan die korrekte spesifikasies, soos uiteengesit en afgedwing deur die Spoorveiligheidsreguleerder nie. Toe die genoemde foute op die lyn ontdek is, het die lyn steeds aan die minimum standaard voldoen."
Die Mosselbaai Brandweer het hul na die toneel gehaas. Foto: Dave van der Merwe.

Diep krake in die hout dwarslêers is duidelik op die foto sigbaar.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'