Die astrante optrede van renosterstropers wat die sewe-jarige renosterbul van die Nyaru privaat-wildreservaat in Brandwag van sy horing gestroop het, is opvallend.
Die renoster is vermoedelik tussen Sondagmiddag en Maandagoggend geteiken.
Sir Fabian, soos die renoster bekend gestaan het, is skaars 'n kilometer van die lodge af van sy horing gestroop en foto's wat op die toneel geneem is, dui daarop dat die stropers nie die hele horing verwyder het nie.
Die horing is netjies met vermoedelik 'n saag afgesny. Die moontlikheid dat 'n helikopter by die stropery betrokke was, word tans ondersoek, alhoewel dit nog nie bevestig kan word nie.
Volgens die Provinsiale Polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie, blyk dit dat die stropers van verdowingspyl(e) gebruik gemaak het om die renoster te verdoof.
Die Mossel Bay Advertiser het verskeie vrae aan kapt Pojie gerig, waarna hy gesê het dat hy nie by magte is om al die vrae te antwoord nie. Hy het aangevoer dat die detail, as dit ter perse kom, die ondersoek kan belemmer.
Mnr Pelham Jones van die Private Rhino Owners Association het die foto's in besit van die Advertiser bestudeer en gesê hy vind die optrede van die stropers vreemd.
"Gewoonlik, wanneer stropers 'n kettingsaag gebruik, saag hulle so diep as moontlik om die meeste van die horing uit te haal."
Lede van die Groot-Brakrivier SAPD het Maandagnag die karkas bewaak, omdat verwag is dat die stropers waarskynlik vir die res van die horing kon terugkeer.
Cape Nature se biodiversiteit misdaad ondersoekspan het Maandagaand DNA van die karkas ingesamel en het Dinsdag 'n karkasin-speksie gedoen.
Die Valke se eenheid teen georganiseerde misdaad het die misdaadtoneel Dinsdag-oggend nagegaan 'as gevolg van weertoestande en ligkwaliteit'.
By navraag oor hoekom die eenheid nie reeds die Maandagaand, toe bewysstukke moontlik nog vars kon wees, opgetree het nie, het kapt Pojie gesê die risiko dat bewysstukke en leidrade vertrap of vernietig kon word, was te groot.
Die eienaar van die Nyaru privaat-wildreservaat, mnr Ruan Fouché, het aan die Advertiser gesê daar is tans nie antwoorde vir wat met sy renoster gebeur het nie.
Hy het opgemerk dat daar 'n hond saam met die polisie op die toneel was, maar dat die hond nooit uit die voertuig gelaat is nie. Kapt Pojie het bevestig dat die honde-eenheid deel was van die polisiekomponente wat op die toneel ontplooi is.
"Elkeen het sy eie mandaat waarvolgens hul dienste aangewend word. Nadat die hondegeleier en 'n opgeleide spoorsnyer die toneel in 'n radius van 360 grade gefynkam het, kon hulle geen spore op die toneel vind nie en daarom is die hond nie aangewend nie."
Die reservaat het slegs 'n eenrigting toegangspad deur 'n hoofhek. "Die bewerings dat iemand oor die heining geklim het, kan nie bevestig word nie. Van die heining is op onbegaanbare terrein geleë. Dit is egter onwaarskynlik, want dan sou daar moontlike spore van die indringers gewees het," sê kapt Pojie.
Dit is die vierde renoster wat sedert 2011 in dié omgewing gestroop is. Nog geen arrestasies is vir enige van die vier voorvalle gemaak nie.
Teen 28 Januarie 2014 is reeds 38 renosters landwyd gestroop.
Die polisie versoek enige persoon met inligting om die ondersoekbeampte, Ao Boet Olckers, by 044 802 1600 te kontak, of Stop Misdaad by 08600 10111. 'n Beloning word aangebied vir enige inligting wat kan lei tot die arrestasie en skuldigbevinding van 'n verdagte.
_593849367.jpg)
Sir Fabian was geheg aan sy hondemaat, Gigi, en het graag naby die huis lusern kom vreet.Inlas: Die foto is op die toneel geneem en wys duidelik dat 'n groot gedeelte van die horing nie verwyder is nie.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'