n Hartseer Mills het twee dae nadat Ria in die sonderlinge plaashuis doodgeskiet is, met die Mossel Bay Advertiser gesels.
Mills en Ria het in Desember 2011 in die huis, wat 'n toonbeeld van Ria se verfynde smaak is, ingetrek. Die egpaar het voor dit, vir 33 jaar op Evander gewoon, waar dr Mills 'n skietaanval deur rowers oorleef het.
Ria was aanvanklik saam met Mills in Secunda, waar hy vir drie weke locum-werk vir 'n ander dokter moes doen, maar wou vroeër terugkom Potsteelhoogte toe. Sy het vermoedelik Saterdagmiddag inkopies gedoen, waarna sy in die huis doodgeskiet is. Sy sou vriende Saterdagaand vir ete in Mosselbaai ontmoet, maar het nie opgedaag nie, waarna die vriende na Potsteelhoogte is om haar te soek. Hulle het op haar lyk afgekom.
Te danke aan goeie speurwerk, is 'n 29-jarige verdagte, Roger Treurnicht Sondagaand, in Wolwedans deur lede van die Groot-Brakrivier SAPD aangekeer. Die verdagte het op Woensdag, 19 September in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op aanklag van moord, huisbraak met die opset om te roof, en roof en diefstal van 'n motorvoertuig. 'n Skootrekenaar, iPad, selfoon, kamera, handsak en juweliersware ter waarde van R75 000 is gesteel.
Die polisie het Treurnicht onder meer deur middel van Ria se selfoon met die voorval verbind. Ria was, na wat verneem word, 'n groot gees in die politiek- en toerismebedryf.
Mills sê hy en Ria het kort voor haar dood gesels oor hul getroude lewe van 40 jaar saam en vir mekaar gesê hulle het bereik wat hulle wou. Die egpaar sou oor twee weke vir 'n vakansie na Italië vertrek.
"Ek het gaan locum-werk doen juis om hierdie vakansie te dek."
Hulle het twee kinders, dr Cival Mills, wat in 2000 in 'n motorongeluk beseer is en verlam gelaat is, en 'n dogter, Madie Dittriech. Ria was glo baie erg oor haar twee kleinkinders.
Die verdagte verskyn weer op 25 September in die Groot-Brakrivier Hof. Hy bly in aanhouding.
'n Gedenkdiens word vandag (Vrydag) om 11:00 by River Meadow Manor in Jan Smutsweg, Irene gehou, terwyl nog 'n gedenk-
diens Woensdag op Potsteelhoogte vir haar gehou is.
Die ondersoekbeampte van die saak is Ao Sias Weyers en die arrestasiebeampte Ao Gerhard Crause, wat bygestaan is deur Ao Gaylord Muller.
Dr Neville Mills gesels met lede van die Groot-Brakrivier SAPD voor die moordhuis. Van links is Ao Frik Schutte, sektorbevelvoerder, Kapt Deon Botha, waarnemende stasiebevelvoerder, Ao Gaylord Muller en Ao Gerhard Crause wat die verdagte gearresteer het. Inlas: Die vermoorde Ria Mills was glo in haar element op die plaas, Potsteelhoogte.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS