Dít was Mia le Roux, Mej Tuinroete en Klein Karoo 2014 se wen-antwoord toe programleier Hannes van Wyk haar kort voor haar kroning gevra het watter prinses of ander bekende sy sou wou wees, indien sy kon kies.
Mia, 'n Oudsthoorniet is gehoorgestremd, maar het die beoordeelaars van meet af beïndruk met haar sprankelende, sterk persoonlikheid. Sy is boonop ook benoem as Mej Fotogenies. Met haar aankondiging as die wenner in vanjaar se kompetisie, het die beoordelaarspaneel haar staande toegejuig.
Vanjaar het daar nog twee ander finaliste uit Oudtshoorn deelgeneem, waaronder Tersia Willemse, ook een van verlede jaar se deelnemers wat vanjaar weer die Mej Liefdadigheid-titel gewen het. Hierdie titel word toegeken aan die finalis wat die meeste kaartjies na die gala-geleentheid verkoop. Alle fondse wat deur kaartjieverkope gegenereer word, word jaarliks aan veiligheidshuise vir mishandelde vroue en kinders geskenk.
Leanka Lauscher, 'n dansinstrukteur van George wat 'n dansskool in Mosselbaai bedryf, is gekroon as eerste prinses, met Cindy Ndlangamandla, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar onder die top drie benoem is as tweede prinses.
Leanka is ook aangewys as Mej Persoonlikheid.
Vir 'n goeie saak
Die Mej Tuinroete en Klein Karoo-geleentheid dien as 'n bewusmakingsplatform wat broodnodige borgskappe genereer vir die veiligheidshuise Malibongwe (Oudtshoorn), Phambili (George), Creating Effective Families (Mosselbaai) en Lukhanyiso (Knysna).
Gaskuntenaar Joseph Clark het vir 'n emosie-belaaide oomblik gesorg toe hy Bryan Adams se Have you ever really loved a woman vir die finaliste van die veiligheidshuise gesing het. Hierna is Creating Effective Families se Elizabeth Burger aangewys as die wenner. Die wenner word gekies op grond van hulle algemene voorkoms, netheid en persoonlike ontwikkeling.
"Vanaand sien helde voor my, nie net gewone mense nie," het sy aan die gehoor gesê.
Met die kompetisie nou in die tweede dekade van sy bestaan, is daar 'n paar opwindende nuwe verwikkelinge op die horison. Die Mosselbaai Munisipaliteit sal voortaan vroue in die sorg van Creating Effective Families-skuiling inkorporeer by entrepeneurskap-ontwikkelingsprogramme en leerlingskappe wat deur hulle aangebied en gefasiliteer word. Direkteur van Korporatiewe Dienste, wat ook tydens die gala-geleentheid as beoordeelaar opgetree het, Edward Jantjies, het sy steun heelhartig namens die munisipaliteit aan hieraan toegesê.
Tydens vanjaar se kompetisie was 'n hoogtepunt die deelname van aktrise Zetske van Pletzen wat haar eksklusiewe reeks aandklere beskikbaar gestel het vir die 12 finaliste. Sy het ook self op die loopplank verskyn met een van haar unieke ontwerpe.
Deelnemers aan vanjaar se kompetisie, was inderdaad verteenwoordigend van die hele streek met vier finaliste uit George, drie uit Mosselbaai en Oudtshoorn, een uit Wildernis en Swellendam.
Meer oor Mia
Mia het as baba heeltemal doof geword, maar het op tweejarige ouderdom 'n kogliêre inplanting in haar regteroor gekry wat haar in staat ge-stel het om te kon hoor en leer praat.
"Die feit dat ek met mense normaalweg kan kommunikeer plaas my in 'n unieke situasie - ek het 'n voet in die horende wêreld en 'n voet in die dowe wêreld."
Nieteenstaande het haar reis baie pyn en trane ingehou.
"Ek het egter besluit dat ek nie meer my ge-stremdheid gaan toelaat om my terug te hou nie. Ek gaan dit gebruik om mense om my te inspireer om in slegte omstandighede steeds hul drome te volg," vertel sy.
Sy noem dat die choreografie op die verhoog tydens die kompetisie vir haar 'n groot uitdaging was, aangesien sy nie die musiek behoorlik kon hoor nie. Mede-Oudtshoorniet, Tersia Willemse, was haar kamermaat en het haar bygestaan.
"Die ervaring het my ongelooflik verryk. Eintlik wens ek dat ek eerste of tweede prinses was, sodat ek volgende jaar kon deelneem om alles weer te beleef," skerts sy.
"God het 'n deel van my lewe geword toe ek 16 jaar oud was. Voorheen was ek altyd baie negatief en selfbewus. Ek voel nie asof daar meer druk op my is as op ander jongmense nie, want met God aan my kant, weet ek ek kan my drome bereik."
Mia is tans besig met verskeie universiteitsaansoeke. Sy beoog om dieëtkunde of menslike bewegingskunde te studeer. "Soos alle jongmense, het ek baie drome. Ek sal graag nog aan Mej Dowe SA wil deelneem."
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Die elfde Mej Tuinroete en Klein Karoo is Saterdagaand gekroon. Mia le Roux van Oudtshoorn het geskiedenis gemaak deur die eerste gehoorsgestremde te word wat die titel inpalm. Hier is sy saam met Leanka Laubscher (eerste prinses), 'n dansinstrukteur van George wat klasgee in Mosselbaai en Cindy Ndlangamandla (tweede prinses), 'n student van George. Agter hulle is die finaliste van die veiligheidshuise vir mishandelde vroue wat deur die kompetisie ondersteun word. Hier is Samantha Pretorius. Foto: Tersia Marais
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'