Mnr Swanepoel is ook ergelik oor die diens wat hy van die Mosselbaai Munisipaliteit ontvang het met die laaste voorval, toe hy self op Hartenbos was en dringend versoek het dat die water wat in die oprit na sy motorhuise opdam uitgepomp moes word.
"My huis se bouplanne is deur die munisipaliteit goedgekeur. 'n Bou-inspekteur van die munisipaliteit het die bouwerk beoordeel en afgeteken. Maandeliks betaal ek dienstegelde en belastings; ek meen ek kan op munisipale dienste aanspraak maak, veral in 'n noodgeval," het 'n baie ontstelde mnr Swanepoel aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Laatmiddag op Donderdag, 10 Januarie, het water meer as kniediep in die oprit van die huis by Elandslaagtestraat 8 opgedam. Die Swane-poels was moedeloos. Hulle was voornemens om die volgende dag huiswaarts te keer, maar moes vir die tweede keer in twee maande eers groot waterskade by hul vakansiehuis hanteer.
"My versekeraar se assessor was reeds hier. Ek loop gevaar om my versekering op die huis en inhoud te verloor, omdat die skade herhaaldelik voorkom. Dit is reeds die derde keer dat ek hierdie tipe waterskade hier ervaar," het mnr Swanepoel bygevoeg.
Ook in die straat voor die huis het water opgedam. Mev Swanepoel het ewe ontsteld bygevoeg dat motors wat deur die dam water in die straat ry, bydra tot die probleem. "Elke keer wanneer 'n motor hier verby ry, spoel water vanuit die pad by ons oprit in."
Ten tyde van die Mossel Bay Advertiser se besoek, was munisipale werkers op die toneel en het 'n munisipale ingenieur opgedaag om die probleem te ondersoek.
Mnr Swanepoel het na bewering die munisipaliteit egter ure tevore gevra om 'n trok te stuur wat die water kan uitpomp om potensieële skade aan sy eiendom te minimaliseer. Dit is onbekend wanneer hierdie trok, indien wel, by die huis opgedaag het.
Probleem aangespreek
Volgens die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, het die munisipaliteit die probleem aangespreek deur eerstens die sypaadjie te lig en randstene te ïnstalleer om stormwater uit die erf te probeer hou."Daar is 'n 'mini soak-away' in die sypaadjie geïnstalleer, asook 'n groot 'soak-away' teen 'n koste van R300 000 in die pad self," het hy bygevoeg.
"Daar word aan nasionale vereistes voldoen vir die ontwerp van stormwaterstelsels, maar die probleem in hierdie geval was die groot hoeveelhede reën wat geval het en wat veroorsaak dat die munisipale stormwaterstelsel nie die water kon hanteer nie. "Uit 'n koste-oogpunt moet die munisipaliteit by die neergelegde vereistes hou. Stormwaterstelsels wat gebaseer word op buitengewone en onvoorspelbare vloedtoestande, sal 'n onmoontlike en onregverdige las op belastingbetalers plaas," aldus mnr Hill.
Ontwerptekortkominge
Bouplanne, sê mnr Hill, word hoofsaaklik oorweeg op grond van die geboustruktuur en stadsbeplanningsvereistes, soos hoogte en boulynbeperkings. Daar word aanvaar dat wanneer 'n ontwikkeling by die bouplanfase is, die res van die infrastruktuur (wat stormwaterbeheer insluit) wel uitgesorteer is. Enige persoon wat 'n perseel ontwikkel, moet die risiko's wat saam met die ontwikkeling gaan (byvoorbeeld 'n steil helling, stormwater, wind) in ag neem, en moet dit mitigeer deur middel van sy professionele span, dit wil sê argitek, ingenieur en kontrakteur.
In hierdie geval moes die professionele span die ontwikkelaar na behore toegelig het en ook die struktuur op so wyse ontwerp het dat genoemde risiko's tot 'n minimum beperk word. Die munisipaliteit kan ongelukkig nie aanspreeklik gehou word vir ontwerptekortkominge nie.

Een dag voordat die Vryburgse eienaar van 'n vakansiehuis na die vakansieseisoen huiswaarts wou keer, het erge reën vir die derde agtereenvolgende keer sy vakansiehuis in Hartenbos oorstroom. Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'