Die antieke vaas was reeds in 'n stuk lap toegedraai en met 'n tou vasgebind om vermoedelik van die balkon afgehys te word, toe mnr Darren Booysen (31) van MSec die rowers op heterdaad betrap het.
Booysen het verlede Maandag, om ongeveer 05:30, op 'n alarm by die museum reageer nadat dit in die maatskappy se beheerkamer afgegaan het. Hy was besig met patrollies in die omgewing en moes oor die museum se hek klim om ondersoek in te stel. Hy het drie mans op die balkon aan die agterkant van die museum gewaar en alarm gemaak.
Die verdagtes het in verskillende rigtings gevlug en Booysen kon daarin slaag om een man op die toneel vas te trek.
Die 44-jarige verdagte is van Port Elizabeth afkomstig en het intussen reeds in die Mosselbaai Landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding en verskyn weer op 11 September in die hof.
Die polisie vermoed dat 'n sindikaat by die rooftog betrokke is. Die Dias Museum is nie die eerste museum wat onlangs deur rowers geteiken is nie. Die Groot Constantia Museum in Kaapstad het ook deurgeloop nadat rowers daarin geslaag het om antieke stukke uit daardie museum te steel.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Weskaapse Departement van Kultuursake en Sport, Tania Colyn, is die Dias Museum se sekuriteit intussen opgeskerp. Die Mosselbaai Speurtak ondersoek die voorval en volg tans leidrade op.
Geskiedenis
Die vaas is glo destyds as geskenk deur 'n kaptein van 'n Oos-Indiese skip aan mnr Sias Meijer van die leenplaas Hartenbos gegee, nadat die skip, Huis Te Marquette, in 1734 op haar terugreis van die Ooste by Mosselbaai anker gegooi het om herstelwerk te laat doen. Sias Meijer het glo te perd na Kaapstad gery om hulp te kry en die vaas is waarskynlik as 'n blyk van waardering vir sy dienste gegee.
Die vaas is glo oorspronklik gebruik vir plante of om goudvisse in aan te hou. Dit is versier met 'n Pinksterroos-krullys. Aan die basis is 'n lotusblaarmotief in vroeë Ming-styl. 'n Klein pêrelagtige ontwerp omsluit die opening. Die bodem van die vaas is nie rooi gebak nie en ongeglasuur gelaat. Daar is geen vervaardigersmerke sigbaar nie.
Dié blou- en wit Chinese vaas van die Dias Museum was in die rowers se hande. Die vaas is 50cm hoog en 64cm breed.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'