Die doel van die kliniek is om mense met ‘n lae inkomste of geen inkomste se diere te help.
Volgens Elmarie Veldsman, bestuurder van die DBV, sal die kliniek vanaf Desember ook die dienste van ‘n voltydse veearts inspan. Die kliniek beskik reeds oor ‘n gekwalifiseerde veeartseny-verpleegster.
“Ons gaan fokus op primêre gesondheidsorg, soos inentings, ontwurming, vlooi- en bosluisbeheer. Die veearts gaan ook konsultasies doen en ons gaan natuurlik voort met sterilisasies ook,” het Veldsman gesê.
Die kliniek is met die hulp van die Garden Route Casino geopen, wat fondse bewillig het vir die bouwerk. Hul finansiële bydrae het ook die aankoop van die nodige kliniektoerusting moontlik gemaak.
Plaaslike veearts, dr Susi Kok, wat reeds etlike jare betrokke is by die DBV, het die organisasie ook in raad en daad bygestaan met die beplanning en opgetree as skakelpersoon tussen die DBV en veeartse in die omgewing. Ander besighede wat ook bygedra het is Venter’s Joinery, Boardware, Doortech, Blue Pearl Granite, Mobicast, Jatisch Paving, Steelworld, Builders @ Home en Egoli Functions, wat tot die openingsgeleentheid bygedra het.
“Ons is baie dankbaar vir almal se aandeel en hulp. Sonder dit sou die kliniek, waaroor ons seker al meer as vyf jaar lank droom, nie moontlik gewees het nie.
"Op die langduur gaan dit ‘n baie groot verskil maak in die versorging van diere in ons omgewing. Diere wat voorheen nie die regte hulp gekry het nie omdat die eienaars nie geweet het waarheen om te gaan nie, het nou ‘n heenkome,” het Veldsman afgesluit.
Hiermee het sy ‘n aanhaling deur Vanessa Barnard vroeër tydens die opening gestaaf.
“AD Williams het gesê: 'when I look into the eyes of an animal, I do not see an animal. I see a friend. I feel a soul'. Ek glo danksy hierdie kliniek, gaan ons elke dag in baie dankbare oë kyk,” het Barnard gesê.
Die veeartsverpleegster sal Dinsdag- en Donderdagoggende van 09:00 tot 11:00 beskikbaar wees vir inentings, ontwurming en klein behandelings. Indien enigiemand van die kliniek wil gebruikmaak, moet hul ‘n ID-dokument, afskrif van Sassa kaart, pensioen of Allpay saambring.
Diegene wat wel salarisse ontvang moet ook die laaste drie maande se bankstate en hul laaste betaalstrokie bring om vir dienste te kwalifiseer.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Lede van die Tuinroete DBV se George- en Mosselbaaitak gooi 'n vrolike duim in die lug tydens die amptelike opening van die gemeenskapskliniek, wat op Vrydag plaasgevind het. Hier is hulle saam met munisipale bestuurder, dr Michele Gratz, vise-voorsitter van die Tuinroete DBV Vanessa Barnard, en die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira.
ARTIKEL EN FOTO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'