Die resultaat sal in November 2015 'n moderne, opwindende oord 'ongekend aan hierdie deel van die kus' wees.
Dit is die mening van Herman Pretorius, Uitvoerende Direkteur van Latitude Properties, die ontwikkelingsvennoot vir die nuwe ATKV handels- en ontspanningsnode op Hartenbos.
Verskeie vooraanstaande Mosselbaaiers het op Donderdag, 13 Februarie die amptelike bekend-stellingsfunksie bygewoon en Mosselbaaiers het die afgelope naweek geleentheid gehad om hulle van die fynere besonderhede oor die voorgenome herontwikkeling van die ATKV Hartenbos Strandoord te vergewis.
Mnr Anton Redelinghuis, visevoorsitter van die ATKV, het gewys op die jarelange verbintenis van die ATKV met Hartenbos.
"Uiteindelik kan ons die ATKV Hartenbos vir die toekoms posisioneer. Hartenbos is vir die ATKV 'n belangrike, winsgewende oord en 'n nasionale vakansiebestemming. Deur die nuwe ontwikkeling, sal die ATKV aan lede en Mosselbaaiers 'n beter diens kan lewer. Die herontwikkelde oord sal 'n bydrae maak tot Mosselbaai se ekonomie, en ook toerisme, beide plaaslik en internasio-naal, bevorder," aldus mnr Redelinghuis.
Eerste Fase
Die ontwikkelaars benadruk dat die nuwe handels- en ontspanningsnode nie as net nóg 'n winkelsentrum geag moet word nie. Die projek is tans 60% verhuur, met 'n bekende nasionale kruidenierswinkelgroep as ankerhuurder, winkels wat op die toerismemark fokus en 'n vlooimark ingesluit.
Fase een, teen 'n koste van ongeveer R250-miljoen, sal 'n geriefshandelsarea en restaurante oor sowat 2 000 vkm met ongekende see-uitsig, insluit. 'n Groot trekpleister sal die beskutte, buitelug sitplekke wees wat tot die vakansie-atmosfeer sal bydra. Hierbenewens sal 'n banksake- en kantoorsektor ook in hierdie fase vervat wees.
Ontspanning
'n Moderne konferensie- en ontspanningsaal van 3 000 vkm sal die gewilde Walvissaal vervang, en die ATKV die geleentheid bied om die lonende konferensiemark volhoubaar te ontgin. Dit sal in kleiner eenhede kan verdeel om vir kleiner funksies voorsiening te maak.
'n Veeldoelige opelugteater vir konserte word ook in hierdie deel van die ontwikkeling ingesluit.
'n Nuwe, verhitte onderdakswembad en waterspeelpark oor 7 000 vkm sal gewis tot vakansiegangers spreek. Nuwe en bykomende wandelpaadjies en verbeterde toegang na die see en strand word verseker en was 'n minimumvoorwaarde waarop die Mosselbaai Munisipaliteit aangedring het.
Tog het mnr Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, daarop gewys dat die herontwikkeling op jare se navorsing volg om juis te verseker dat dit buite die vakansieseisoen volhoubaar is.
"Sedert die ATKV in 1936 die plaas Hartenbos bekom het, het weinig veranderinge plaasgevind. Dit is tyd om te verander, aangesien die bestaande infrastruktuur nie werklik meer die toeloop van besoekers kan hanteer nie. Ons doen dit nie net vir Hartenbos nie, maar vir die hele Suid-Kaap en al die toekomstige besoekers."
Mosselbaai Besigheidskamer
"Ons verwelkom die planne om die Hartenbos Strandoord op te gradeer en te vernuwe. Die bestaande fasiliteit is oud en afgeleef en die tyd het al aangebreek dat die ATKV hul belegging in Hartenbos 'n finansiële inspuiting gee.
"Die Hartenbos vakansie-oord speel 'n vername rol om vakansiegangers en toeriste na die Tuinroete te trek. Die nuwe fasiliteit sal die toe-rismebedryf in Mosselbaai en die omliggende omgewing stimuleer. Die 46 luukse huurwoonstelle gaan ook die akkommodasiesektor vergroot, wat saam met die konferensiefasiliteite geleenthede sal bied om groot groepe na Mosselbaai te lok," berig die voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer, mnr Johan van Rensburg.
"Herman Potgieter, hoofbeampte van die ont-wikkelingsmaatskappy, het aan die Mosselbaai Besigheidskamer onderneem om sover moontlik van plaaslike arbeid en plaaslike konstruksie maatskappye gebruik te maak tydens die konstruksiefase.
"Die MBBC is versigtig optimisties oor die vestiging van nog 'n nasionale kleinhandelaar as ankerhuurder in die beplande sentrum. Dit is egter noodsaaklik dat 'n groot groep as ankerhuurder ingebring word om gedurende die buiteseisoen tydperk deur ander takke gedra te word. Dit gaan die kompetisie tussen bestaande besighede om markaandeel te behou, tot die uiterste beproef. Indien die koperspubliek meer plaaslike besighede ondersteun, behoort alle besighede te groei," het mnr Van Rensburg bygevoeg.
Skaalmodel
'n Skaalmodel van die voorgenome ontwikkeling is tans by die kantore van die ATKV op Hartenbos beskikbaar en die publiek word uitgenooi om dit te besigtig.
Die boustyl spreek volgens die argitek, Mario Zahra van BAU Design Inv, van 'n onopgesmukte plaasstyl, "dog met 'n tikkie moderne glans."
Voetgangerverkeer kry deurgaans voorkeur, met fokus op die interaksie met die see en omgewing.
Die hoogte word sover moontlik tot enkelverdieping beperk, hoewel elemente van die ontwikkeling bó Paardekraalweg in die rigting van Kaap de Goede Hoopweg, wel dubbelverdieping sal wees. Die nuwe woonstelle sal weens die helling na die see tot drie verdiepings gebou word. In dié fase word 46 luukse, ATKV huurwoonstelle met 'n ongerepte uitsig oor Mosselbaai, beplan.
Voordele
Verskeie voordele word deur die ontwikkelaars vir die geslote oord voorgehou, onder meer, verbeterde sekuriteit en toegangsbeheer, die opknapping van die huidige kampeerterrein en karavaanstaanplekke, verbeterde, byderwetse akkommodasie en 'n moderne strandontwikkeling ongeken aan die Suid-Kaap.
Die ATKV het, in samewerking met Latitude Properties as aandeelhouers, 'n nuwe ontwikkelingsmaatskappy gestig. Die ontwikkelingsmaatskappy sal die terrein waarop die herontwikkelde strandoord opgerig word, oor die langtermyn van die ATKV huur.
Gedeeltes van Paardekraal- en Kaap de Goedehoopweg en munisipale en telekommunikasiedienste sal ter wille van 'n voertuigvrye handelsone verlê word. Voldoende, nabye parkering vir die strandoord word dus verseker en sal die verkeersvloeiprobleme gevolglik aanspreek.
Na raming sal die ontwikkeling teen November 2015 afgehandel wees.
Mnr Herman Pretorius, uitvoerende hoof van Latitude Properties, die ontwikkelingsvennoot van die ATKV, nooi belangstellendes om hom met verdere navrae te kontak by herman@latitudeps.co.za

'n Kunstenaarsvoorstelling van die eerste fase van die nuwe handels- en ontspanningsnode wat vir Hartenbos in die vooruitsig gestel word. Grafika: Verskaf
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'