MOSSELBAAI NUUS - Te midde van 'n uiters ontwrigtende tyd in daaglikse lewe van Suid-Afrikaners wat tans in inperking leef, is om sonder jou selfoon te moet klaarkom waarskynlik die laaste strooi wat die kameel se rug sal breek.
Sedert die grendeltydperk vanweë die Covid-19-pandemie aangekondig is, is dit opmerklik hoeveel meer mense van sosialemediaplatforms gebruik maak om in kontak met ander te bly.
Sharon Theunissen van Mosselbaai was so hittete haar selfoon kwyt, maar danksy 'n barmhartige Samaritaan, is hierdie verlies haar darem gespaar.
Sharon en haar seun is op Vrydag, 3 April laatmiddag net voor sluitingstyd na die Mosselbaai Mall om besigheid te doen. "Ons was so net voor 18:00 apteek toe. Toe ons by die huis kom was my selfoon soek."
Haar eerste gedagte was dat dit in die motor uit haar sak gegly het. "Ek het in die motor gebly en my seun het van binne die huis my nommer geskakel sodat ons kon uitvind waar die foon is."
Die eerste keer, vertel Sharon het die foon net gelui, maar met die tweede probeerslag, het 'n onbekende man die selfoon geantwoord.
Die man het aan Sharon se seun gesê dat hy die selfoon in die parkeerterrein sien lê en opgetel het. "Hy het gesê hy wag vir ons by die mall en ons het dadelik gery om die foon te gaan haal. Toe ons daar kom het hy eintlik na ons aangehardloop gekom."
Sy ken die barmhartige Samaritaan net as John. Hy is 'n trolliewag by die Mosselbaai Mall. "Ek het hom reeds iets gegee om dankie te sê, maar ek het vir hom gesê dat ek elke keer as ek sy gesig by die mall sien, ek weer vir hom iets gaan gee. Ek is te dankbaar."
Sy sê haar foon is vol foto's en sy sou nie weet wat om te maak as dit verlore moes raak nie. "Mens kan mos nie al daardie memories terugkry nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'