MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het, ten spyte van die knyp in die ekonomie, weer eens verlede week bewys dat om platsak te wees hulle nie gaan keer om te ondersteun waar daar nood is nie.
Verskeie inisiatiewe is sedert Januarie vanjaar van stapel gestuur ten einde 'n jong kankerpasiënt, Ethan le Grange, finansieel te ondersteun.
Een van hierdie projekte is 'n Valentynsdans wat verlede week aangebied is. Gerhard le Roux, alombekend as die stem agter die facebookblad, Mosselbaai op sy heel beste, berig dat die dans baie goed ondersteun is en 'n bedrag van meer as R13 000 opgelewer het.
Danksy borge, was die dans nie sommer van hier nie. Die saal, wat teen 'n groot afslag beskikbaar gestel is, is mooi gemaak, die dansmusiek is geborg en ook die veiling wat gehou is, het bygedra tot die aand se finansiële sukses.
"Ons het besef na die sukses van hierdie aand, dat daar beslis 'n behoefte onder Mosselbaaiers bestaan vir nog sulke sosiale geleenthede. Boonop, is ons ook bewus daarvan, dat daar ander jong kankerpasiënte is wat ook groot behoefte het en hulp benodig. Van baie weet ons nie eens nie," sê Le Roux.
Juis daarom, meen Le Roux, is die volgende dans reeds in die beplanning. "Ons plan is om dit dalk elke maand te hou so net na payday min of meer. Want die mense geniet dit om te dans. Hier is nie regtig plekke waar almal lekker kan dans nie. Te oordeel aan die foto's op facebook, het oud en jonk die aand ewe veel geniet."
Meer inligting oor die volgende dans volg binnekort.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'