MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep studente, waaronder etlike enkelma's wat 'n opleidingsgeleentheid aangegryp het, is ontsteld omdat hulle voel dat hulle nie ontvang het waarvoor hul ingestem het nie.
Vroeër vanjaar het 'n sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (SETA) van die plaaslike regering, in samewerking met die Mosselbaai-munsipaliteit volgens 'n advertensie 'n geleentheid gebied vir jong, werkloses, 18 jaar en ouer om hulle matriekkwalifikasie te bekom.
Assesseringstoetse is afgelê in Maart en opleiding het in Augustus 'n aanvang geneem.
Volgens een van die studente wat verkies om anoniem te bly, was die klasgroep 50 sterk en verdeel in twee groepe van 25 elk. Klasse is drie maal per week vir 'n tydperk van vier maande aangebied.
Gedurende Oktober, het die bom egter gebars toe studente, onder wie sommige hulle werk gelos het om aan die program te kon deelneem aangesien dit een van die voorwaardes was, uitvind dat hulle eintlik met graad 9-klasse besig is. Van die studente sê dat hulle reeds dié graad gedoen het en dus hoegenaamd nie baat vind by die opleiding nie.
"Eers toe ons navraag doen by van die aanbieders, het hulle beken dat ons met graad 9 besig is en dat dit van die begin af so aan ons verduidelik moes gewees het." Die studente hou vol dat tydens die aanvanklike bekendstelling, die aanbieders dit duidelik gestel het dat die studente met 'n matriekkwalifikasie besig sal wees.
By navraag is verduidelik dat die studente tydens assessering, deeglik oor die opleidingsvlakke en wat dit behels ingelig is. Assessering het plaasgevind om wiskundige en kommunikasievaardighede te bepaal.
Volgens die uitkoms van die assessering is studente op vlak 1 tot 4 geplaas afhangende van die uitkoms.
Alliston Saville van Siyaphambili wat die opleiding verskaf het, het by navraag gesê dat geen van die aanbieders die opleiding anders sou voorhou as waarvoor die organisisasie geakkrediteer is nie.
Volgens Saville is die organisasie nie geakkrediteer om matriekklassie aan te bied nie. "Ons bied kursusse aan wat studente kan help wat beoog om hulle matriekkwalifikasie te verwerf." Saville het voorts gesê dat personeel van die Mosselbaai-munisipaliteit teenwoordig was tydens die aanbiedings en dus sal kan staaf wat aan die studente voorgehou is.
Die studente het ook gekla dat die toelaag wat aan hulle beloof is, aangesien van hulle hul werk bedank het, nog nie ten volle aan hulle uitbetaal is nie. Die studente moes R1 800 per maand vir 'n tydperk van vier maande ontvang, soos geadverteer. "Ons het net een betaling ontvang," het nog 'n student bevestig.
Hierop het Saville geantwoord dat studente wat die klasse bywoon, wel hul eerste betaling ontvang het en dat Siyaphambili op die SETA wag om die res van die fondse oor te betaal.
"As ons van die begin af die ware feite geweet het, glo ek nie sou hulle nie een leerling gehad het nie. Meeste van die studente is reeds weg om werk of ander geleenthede te soek. Ons almal soek nou werk, maar werk is skaars."
Saville het ter afsluiting gesê dat die verwarring vir hom vreemd is, aangesien sy organisasie se mandaat baie duidelik is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'