MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit onderneem tans 'n multi-jaar elektriese projek van ongeveer R15m in die Midbrak-area, wat na verwagting teen ongeveer Augustus voltooi sal wees. Dié werk sluit in die opgradering by die Klein Brak-substasie asook op die oorhoofse lyne tussen Klein Brak-substasie, Midbrak-substasie en ook Fraaiuitsig, om die netwerk-spanning van 22kV na 11kV te verander.
Konstruksiewerk sal vereis dat die netwerk in die komende maande by tye afgeskakel moet word, soms vir periodes van tot agt uur.
Inwoners sal vroegtydig in kennis gestel word van die beplande datums van hierdie afskakelings.
Mosselbaai-munisipaliteit is bewus van die probleme wat inwoners van die Midbrak-area met kragonderbrekings ondervind. Gekombineer met beurtkrag wat nasionaal deur Eskom ingestel word, bestaan die persepsie dat dié area meer as 'n billike deel van kragonderbrekings kry.
Die elektriesiteitstoevoer na die Midbrak-area, wat Tergniet, Fraaiuitsig onder meer insluit, kom van die Mosselbaai-munisipaliteit se Klein Brak-substasie, geleë in die omgewing van die Botlierskop-toegangspad. Vanaf hierdie substasie word die toevoer deur middel van 22kV oorhoofse lyne oor 'n landbou-area na die woonbuurte geneem. Die totale lengte van hierdie oorhoofse lyne is sowat 15-18 km.
Dis 'n algemene gegewe dat oorhoofse lyne meer blootgestel is aan elektriese foute as wat 'n ondergrondse kabelnetwerk sou wees en dat oorhoofse lyne in 'n landelike area nóg meer blootgestel is as in beboude gebiede, soos ook aangedui word in NERSA Nasionale Gerasionaliseerde Spesifikasie NRS 048, deel 2.
Koste-oorwegings verhoed egter dat ondergrondse kabels oor hierdie lang afstande gebruik word, aangesien 'n ondergrondse kabelnetwerk vier tot vyf keer meer as 'n oorhoofse lyn kos.
Die konstruksie van 'n oorhoofse lyn is ook aansienlik vinniger is as 'n ondergrondsekabel oor dieselfde afstand.
Die tipiese oorsake van nie-permanente foute waaraan oorhoofse lyne blootgestel word, sluit in voëls en ander diere, asook wind wat boomtakke op die lyn waai. Onderbrekings kan plaasvind tydens nat of mistige weer wanneer oorvonking mag plaasvind op isolators wat deur stof en omgewings-faktore besoedel is.
Geen stelsel is perfek nie, en hoewel toerusting deurgaans onderhou word, kan toerusting faal. Die mees onlangse voorbeeld hiervan is die faling van 'n oorhoofse lyn-skakelaar naby Midbrak-substasie, nét na die beëindiging van beurtkrag op die aand van 11 Februarie.
In sodanige gevalle isoleer bystand-personeel die beskadigde gedeelte van die netwerk so gou as moontlik, sodat toevoer na die area herstel kan word.
'n Ander probleem wat ook meer onlangs ondervind is, is verwant aan beurtkrag. Daar was insidente waar plaaslike elektriese voerders geklink het weens oorbelading oomblikke nadat beurtkrag beëindig is. Die risiko hiervan is groter wanneer beurtkrag tydens spitstyd plaasvind en verbruikers almal op een slag aangeskakel word, sodat die hele area se warmwatertoestelle gelyk aankom, asook ketels, ligte, TVs en ander huishoudelike toestelle. Deur veranderinge aan die netwerkkonfigurasie te maak, is dit moontlik om elektriese vrag na ander voerders te skuif om herhaling van die insident te verhoed.
Mosselbaai-munisipaliteit is verbind tot uitsonderlike dienslewering en vra gevolglik by voorbaat die inwoners wat deur hierdie opgradering in die korttermyn verontrief gaan word, om verskoning vir die ongerief.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'