MOSSELBAAI NUUS - Die adjunkbevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, kol Una Saayman sê die teenwoordigheid van die munisipale uitvoerende bestuur, onder meer die uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé, het tydens die oproerigheid wat Maandagaand veroorsaak het dat Louis Fourieweg tydelik gesluit was, grootliks daartoe bygedra dat gemoedere gou gekalmeer is en die oproeriges uiteengegaan het.
"Die polisie ondersoek wel 'n saak van openbare oproerigheid. Ek was persoonlik op die toneel en daar was kort nadat die bande aan die brand gesteek is meer kinders en vroue op die toneel op Louis Fourieweg. Toe die polisie ontbied is, het die buitebande reeds gebrand. Dit was my besluit om die polisie se openbare orde-eenheid (POPs) uit George te ontbied. POPs het wel teen die oproeriges opgetree toe brande ook in Walvisstraat gestig is," berig kol Saayman.
Op sosiale media is die polisie kwalik geneem omdat lede die situasie net gemonitor het en nie meer kragdadig opgetree het en die belhamels gearresteer het nie. Nie alle polisielede is egter in skarebeheer opgelei nie en mag volgens regulasie daarom nie teen openbare oproerigheid optree nie. Lede van POPs, daarenteen, beskik oor die nodige gespesialiseerde opleiding en toerusting om skarebeheer en oproerigheid behoorlik en regmatig te hanteer.
Die polisiewoordvoerder van die Da Gamaskop-polisiestasie, kapt Wollie Fourie sê die polisie se eerste prioriteit tydens Maandagaand se oproerigheid was die veiligheid van die motoriste.
"Daar is streng prosedure wat deurentyd gevolg moet word," het hy benadruk.
"Mosselbaai is die eerste gemeenskap waar ek dit beleef dat die munisipaliteit se uitvoerende bestuur; die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, mnr Puren en ander direkteure tydens oproerigheid onmiddellik en direk met die gemeenskap geskakel en die situasie ontlont het. Ek het tydens die gesamentlike bestuursvergadering op Maandagoggend die munisipaliteit vir hul betrokkenheid bedank."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'